Matrieks

Garreth wil nog ’n kardioloog word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Garreth de Lange (18)Foto: VERSKAF
Garreth de Lange (18)Foto: VERSKAF

Garreth de Lange, 'n matriekleerling aan die Hoërskool Stellenberg, was glad nie bang toe hy gedurende sy gr. 7-jaar 'n opehartoperasie moes ondergaan.

Die operasie is gedoen om die aneurisme in sy stygende aorta en 'n foutiewe aortaklep te herstel.

Volgens Garreth was hy nie angstig oor die operasie nie, maar hy was geskok om te hoor dat hy 'n probleem met sy hart het.

"Tot en met die operasie het ek nie eers geweet dat daar fout is met my hart nie. My ouers het dit geheim gehou. Maar ten spyte van dit, het ek alles soos normaal gedoen.

"My ma het my eendag geneem vir 'n doktersondersoek, en dit is toe dat die kardioloog sê ek sal 'n operasie moet ondergaan," vertel hy.

Toe sy vriende hoor hy moet vir 'n hartoperasie gaan, was hulle meer bang as hy, skerts Garreth.

"Hulle was baie ondersteunend. Een van my vriende het vir my in die hospitaal kom kuier en hulle het vir my briefies gestuur om vir my beterskap toe te wens."

Garreth was net twee jaar oud toe sy ouers uitgevind het dat hy 'n hartdefek - 'n bikuspidale klep - het.

Dit beteken dat die hart 'n abnormale aortaklep met twee kuspe het.

Veranderinge aan die aortaklep kan gesondheidsprobleme veroorsaak soos die vernouing van die aortaklep, genoem aortaklepstenose. Die klep mag dalk nie heeltemal oopmaak nie en bloedvloei vanaf die hart na die liggaam word verminder of geblokkeer.

Volgens sy ma, Nikki, was Garreth baie opgewonde oor sy eerste opehartoperasie en het nie ten volle begryp wat besig was om te gebeur nie. "Hy was so opgewonde en my oë was dik gehuil. Ek dink ek het hom nie een keer sien huil gedurende daardie tyd nie."

Die operasie het sowat agt uur geduur en hy moes vir twee weke in die hospitaal bly om te herstel.

"In 'n stadium het ek gevra wanneer kan ek huis toe gaan," lag Garreth.

Toe Garreth uiteindelik uit die hospitaal ontslaan was, moes hy egter weer teruggaan omdat hy toe longontsteking opgedoen het.

"Dit het so vinnig gebeur. Want Garreth het sulke steekpyne ervaar en ons was nie seker of dit as gevolg van die operasie was of die longontsteking nie, maar dit is gelukkig gou behandel," vertel Nikki.

Hy het onlangs gehoor dat hy weer vanjaar 'n opehartoperasie moet ondergaan om sy aortaklep te vervang.

"Dit is nogal vreesaanjaend, maar ons vat dit soos dit kom.

"Die dokters het heel aan die begin gesê dat ek elke jaar moet gaan vir 'n ondersoek en dat ek heelwat operasies gaan moet ondergaan. Ek weet nou wat fout is met my hart en verstaan nou baie beter, maar ek weet daar is baie goeie dokters wat na my gaan omsien."

Met die dat die aortaklep vervang moet word, moet Garreth besluit tussen 'n meganiese, biologiese aortaklep of die Ross-prosedure. Die Ross-prosedure, ook bekend as pulmonale outotransplantaat-vervanging, is 'n hartoperasie wat 'n siek aortaklep met die pasiënt se eie pulmonêre klep vervang.

"Die meganiese klep is die een wat die langste hou, maar dan moet jy die bloedverdunner Warfrin gebruik om bloedklonte te vermy. Die biologiese klep is die beste een, maar dit hou nie lank nie en gaan dalk weer vervang moet word. Die Ross-prosedure word nie so gereeld in Suid-Afrika gedoen nie. So, Garreth gaan moet bietjie dink watter een hy gaan kies," verduidelik Nikki.

Weens sy hartdefek kan Garreth nie aan aërobiese sportsoorte soos hardloop of hokkie deelneem. Hy het egter 'n manier gevind om aktief en positief te bly deur stap te omhels. Die passie het daartoe gelei dat hy die strawwe Otter-staproete drie keer voltooi het - in 2020, 2022 en Maart 2024.

Hierdie vyf dag lange staptog is fisiek veeleisend, wat vereis dat stappers al hul toerusting en kos saamdra, maar tog het Garreth dit met vasberadenheid en veerkragtigheid voltooi, selfs toe hy fisieke ongemak ondervind het.

"Ek het dit net gedoen en soos normaal geoefen. Ek het soos my eie roetine gehad, maar dit was maar al. Ek het dit baie geniet en dit het my uitgedaag."

Garreth het matriek met vyf onderskeidings en met toelating tot graadstudies geslaag. Hy wil graag medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer en 'n kardioloog word.

"Een van die redes is gedeeltelik oor my harttoestand, maar ook omdat ek baie van die mediese veld hou. Indien ek nie medies kan gaan studeer nie, is my ander opsie datawetenskap en genetika. Ek sal dan steeds in die mediese veld kan werk."

Garreth is opgewonde oor die reis ná skool omdat dit met soveel vryheid, maar ook verantwoordelikheid kom. "Ek kan nou dinge leer waarvan ek baie hou en geniet."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM