Matrieks

Gewas maak Lisa nie stil

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dit was so hittete of ’n vergroeisel op Lisa Combrinck se skildklier het haar besonderse stem vir ewig stilgemaak. Foto: Jay Fathom
Dit was so hittete of ’n vergroeisel op Lisa Combrinck se skildklier het haar besonderse stem vir ewig stilgemaak. Foto: Jay Fathom

Sy het 'n rasperstem wat aan Janis Joplin of Stevie Nicks herinner.

Luisteraars van Jacaranda FM het haar as Lisa Taylr van The 94.2's leer ken, een van die wenners van die My Kids Rock-kompetisie in 2021.

Verlede jaar het sy en haar groep, nou bekend as OverZealous, GROOTfm se Battle of the Bands gewen.

'n Vergroeisel op Lisa Combrink se skildklier het egter haar besonderse stem amper vir ewig stil gemaak.

In 2022 het dié oudmatriek van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg 'n endokrinoloog besoek nadat sy gesondheidsprobleme ervaar het. 'n Biopsie het slegte nuus onthul: 'n gewas op haar skildklier, enkele millimeters van haar stembande af.

"Dit was verskriklik! Die gewas moes verwyder word; dit kon kwaadaardig wees. Maar die idee dat ek nooit weer sou kon sing nie, was amper te erg om aan te dink. Om te sing is my grootste passie, en daar was 'n kans dat die operasie my stembande kon beskadig."

Haar ouers het voorgestel dat sy 'n album voor die operasie opneem. Indien haar stem wel beskadig word, sou daar darem 'n opname daarvan wees.

"Dit moes alles binne ses weke gebeur," sê sy. "Ek moes die musiek en lirieke skryf en dit in die studio laat opneem. Die album se naam is Eleventh Hour omdat dit op die nippertjie opgeneem is."

Haar chirurg, dr. Alan Cairns van die Wits Donald Gordon-hospitaal, het egter die prosedure haarfyn beplan en die operasie was 'n sukses.

Lisa se foltering was egter nog nie verby nie. Sy moet lewenslank chroniese medisyne neem om te keer dat sy Hasjimoto se siekte kry. Dié outo-immuunsiekte word deur 'n onderaktiewe skildklier veroorsaak. Om die regte dosis te kry verg egter 'n paar toetslopies en newe-effekte.

"Ek het gereeld lam en tam gevoel en gesukkel om tydens my matriekjaar al die balle in die lug te hou. My skoolwerk en hokkie het daaronder gely, maar toe my dokters eers die dosis regkry, toe voel ek stukke beter as aan die begin van verlede jaar."

Sy het ses onderskeidings in die matriekeksamen gekry.

Vanjaar gaan sy op haar musiek- en sangloopbaan fokus. "Groot FM se Battle of the Bands-kompetisie was beslis 'n hoogtepunt verlede jaar. Dit was wonderlik om weer saam met my ou band te kon optree ná 2022 se spanning en uitdagings."

OverZealous is deur Universal Music genader om saam met die platemaatskappy te werk. Hulle wil ook vanjaar 'n paar Afrikaanse liedjies uitreik.

Lisa oorweeg dit om modeontwerp te studeer, haar ander groot liefde naas musiek.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM