Matrieks

Gimmies-meerlinge lewer groot onderskeidingsoes

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jou kop draai skoon wanneer jy Potchefstroom Gimnasium in Noordwes se ryk oes meerlinge, wat verlede jaar gematrikuleer het, aanskou.

Een vierling, 'n drieling en vier tweelinge het 49 onderskeidings in die matriekeindeksamen ingeryg.

Gimmies se meerlinge. Van links is, voor: Lise en Annemé de Wet en Mieke en Karla Retief; eerste ry: Anika, Nicholas, Cronje en Marlizé du Plooy; tweede ry: Ruan en Arlene Nel; en agter: Leon, Juan en Jana van der Merwe.  Foto: Susan Cilliers
Gimmies se meerlinge. Van links is, voor: Lise en Annemé de Wet en Mieke en Karla Retief; eerste ry: Anika, Nicholas, Cronje en Marlizé du Plooy; tweede ry: Ruan en Arlene Nel; en agter: Leon, Juan en Jana van der Merwe. Foto: Susan Cilliers

Die Du Plooy-vierling, Marlizé (een onderskeiding), Nicholas (vier onderskeidings), Cronje (drie onderskeidings) en Anika (sewe onderskeidings), is van hul babadae af al gewoond om alles met mekaar te deel.

"Dis lekker om altyd iemand te hê saam met wie jy iets kan doen," sê Anika.

Weens hul uiteenlopende persoonlikhede is hulle wel soms in mekaar se hare, vertel Marlizé.

"Ons wil nie altyd dieselfde programme op televisie kyk nie," sê Cronje.

Marlizé, Anika en Nicholas begin vanjaar met hul studie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke) - Marlizé wil 'n onderwyseres word, Anika 'n geoktrooieerde rekenmeester en Nicholas 'n megatroniese ingenieur. Cronje wil sy pa se onderneming oorneem en hom terselfdertyd as ketelmaker bekwaam.

Die Van der Merwe-drieling bestaan uit een roos en twee dorings: Leon, Juan en Jana. Elkeen van hulle het met twee onderskeidings geslaag. Leon gaan vanjaar sy studie in elektromeganiese ingenieurswese aan die NWU-Pukke pak. Juan wil ondervinding in die sakewêreld opdoen omdat hy daarvan droom om 'n loopbaan in dié bedryf te volg. Hy geniet dit om altyd geselskap te hê, maar dinge raak nou ingewikkelder soos wat die drieling ouer word en hul eie persoonlikhede ontwikkel.

Gimmies se meerlinge laat die koppe draai. Van links is, voor: Arlene en Ruan Nel; eerste ry: Juan, Jana en Leon van der Merwe; tweede ry: Marlizé, Cronje, Nicholas en Anika du Plooy; en agter: Lise en Annemé de Wet en Mieke en Karla Retief. Foto: Susan Cilliers
Gimmies se meerlinge laat die koppe draai. Van links is, voor: Arlene en Ruan Nel; eerste ry: Juan, Jana en Leon van der Merwe; tweede ry: Marlizé, Cronje, Nicholas en Anika du Plooy; en agter: Lise en Annemé de Wet en Mieke en Karla Retief. Foto: Susan Cilliers

"Dit kan konflik veroorsaak, terwyl ons net lekker saam gespeel het toe ons jonger was."

Jana beoog om vanjaar met haar studie in fisioterapie te begin, maar teen druktyd het sy nog op haar finale punte gewag vir sekerheid.

Mieke en Karla Retief is nie heeltemal 'n identiese tweeling nie, maar trek so sterk na mekaar dat hulle al kon wegkom met poetse. Op skool het hulle die onderwysers geflous deur mekaar se klasse by te woon, maar hul maats ken hulle maklik uit mekaar.

Mieke het ses onderskeidings en Karla vier.

Hulle is al twee op pad na die NWU-Pukke waar Mieke 'n BA-graad in sielkunde met kuns en tale wil studeer en Karla BSc (fisiologie en psigologie). Hulle is nie in dieselfde koshuis nie, maar die Wag-'n-Bietjie-dameskoshuis en Vergeet-My-Nie is darem net 'n klipgooi van mekaar af.

"Ons sal vir ewig beste vriende wees," sê Mieke. "Dis nooit moeilik om na nuwe plekke toe te gaan nie, want ons het mekaar. Ek hou wel nie daarvan wanneer mense ons dikwels met mekaar vergelyk en as een persoon pleks van individue sien nie."

Vir Karla is daar geen nadele aan tweeling wees nie.

"Ek het in die steek gelaat gevoel toe ons in 'n stadium elkeen ons eie kamer kry."

Damian en Cameron Charslund. Foto: Verskaf
Damian en Cameron Charslund. Foto: Verskaf

Lise en Annemé de Wet lyk op 'n haar na mekaar en gaan by die NWU-Pukke se LaVaria-damesdorpskoshuis inskakel.

Lise (vyf onderskeidings) gaan chemiese ingenieurswese studeer en Annemé (ses onderskeidings) BSc (mikrobiologie en biochemie).

"Ons sal altyd maats wees en deel alles," vertel Annemé. "Ek kan heeltemal myself by haar wees. Nie net ander mense vergelyk ons met mekaar nie, ons vergelyk onsself ook met mekaar."

"Sy ondersteun my, ons verstaan mekaar," voeg Lise by.

Damian en Cameron Charslund sê soos hulle ouer word, raak hulle al hoe meer geheg aan mekaar, al verskil hul persoonlikhede en belangstellings.

"Wanneer Cameron beter presteer as ek, moedig dit my aan om beter te doen," sê Damian. Die twee het mekaar ook aangemoedig en saam tydens die eindeksamen gestudeer.

Damian pak vanjaar sy studie as meulmaker by die Sol-Tech-kollege in Pretoria aan.

"Ek gaan leer om groot masjiene reg te maak en in stand te hou, dis 'n beroep wat ek later ook in die buiteland kan beoefen."

Cameron, wat met vier onderskeidings geslaag het, het keuring gekry om verpleegkunde aan die NWU te gaan studeer, maar het teen druktyd nog op haar finale punte gewag om moontlik keuring vir medies te kry.

Ruan en Arlene Nel vertel hulle kom al hoe beter oor die weg soos wat hulle ouer word. Ruan is nog nie seker watter loopbaan hy wil volg nie, hoewel hy weet hy wil met diere werk. Arlene (drie onderskeidings) begin vanjaar met haar studie in grafiese ontwerp aan die NWU-Pukke.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM