Matrieks

Groot dinge wag op Brandon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Brandon de Greef het verlede jaar die Nobelprys-toekenningseremoniein die Stockholm-konsertsaal bygewoon.
Brandon de Greef het verlede jaar die Nobelprys-toekenningseremoniein die Stockholm-konsertsaal bygewoon.

Die ink op sy laaste vraestel was skaars droog, toe klim Brandon de Greef op 'n vliegtuig na Swede om die Nobelweek in Stockholm by te woon.

Daar het hy sy navorsing oor poeier-isoleerders en hoëspanning-elektrisiteit voorgelê aan die wêreld se belowendste jong wetenskaplikes tydens die Stockholm International Youth Science Seminar (SIYSS). Slegs 'n handjievol leerlinge van oor die wêreld heen is gekies om hul idees hier voor te lê.

Brandon het ook die Nobelprys-toekenningseremonie op 10 Desember 2023, die herdenking van Alfred Nobel se dood, bygewoon.

Die oudleerling van Crawford College Ruimsig het vyf onderskeidings gekry in Afrikaans eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie en ingenieursgrafika-en ontwerp.

Hy het Stockholm besoek as 'n Dr. Derek Gray Gedenktoekenning-genoot, nadat hy in graad 11 die 2022 Eskom-wetenskap-ekspo (ISF), die grootste in Afrika, gewen het. Die ekspo is die geesteskind van wyle Gray, 'n wetenskaponderwyser wat geglo het die wetenskappe moet toeganklik vir alle Suid-Afrikaanse leerlinge wees ongeag hul ras, herkoms of geslag. Die toekenning sluit in 'n studiebeurs om aan die Universiteit van Pretoria te studeer en 'n reis na Swede, wat alle kostes dek om die Nobel-toekenningseremonie en die SIYSS by te woon.

Brandon de Greef se uitnodiging na die Nobelprys-toekenningseremonie.
Brandon de Greef se uitnodiging na die Nobelprys-toekenningseremonie.

Ná Nobelweek het hy na Kiroena, Swede se mees noordliggende dorp gereis. Die dorpie in die Arktiese sirkel is gewild onder toeriste wat graag na die Noorderligte kom kyk. Brandon was daar vir 'n ander rede - 'n besoek aan die Kiroena-ysterertsmyn, die grootste ter wêreld.

"Dit was nog altyd my droom om die myn te besoek. Dis 'n meesterstuk van ingenieurswese - een van die bedryf se wonders van die wêreld."

Die myn is meer as 2 km diep, met 'n ertsrif wat 4 km lank is.

"As ek net een stukkie raad het vir leerlinge wat in wetenskap, wiskunde en fisika belangstel, is dit om aan die ISF deel te neem. Dit bied aspirant-wetenskaplikes en ingenieurs soveel geleenthede."

Hy was verlede jaar ook deel van die ISF se afvaardiging wat Suid-Afrika in Dallas, Texas by die Regeneron International Science and Engineering Fair verteenwoordig het.

By vanjaar se Eskom-ekspo het hy 'n goue medalje ontvang vir sy ander navorsingsprojek, waar hy gekyk het hoe sonkragpanele optimaal binne 'n huishouding benut kan word.

Brandon gaan vanjaar toegepaste fisika en ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy sal dit oorweeg om oorsee te studeer, indien hy 'n beurs kry, maar meen Suid-Afrika bied beter geleenthede vir praktiese ondervinding en probleemoplossing.

"Nood leer bid. Ek het met Europese ingenieurs gesels wat erken dinge raak soms vervelig, omdat alles so goed werk. Daar is niks probleme om op te los nie.

"In 'n land soos Suid-Afrika en in ander ontwikkelende lande word ingenieurs gedwing om oplossings en alternatiewe te vind vir meer doeltreffende stelsels in uiters uitdagende omstandighede. Hier kan jy uitstekende ondervinding in die veld opdoen, wat ek glo Suid-Afrikaners 'n voorsprong in die bedryf gee."

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM