Henco Duvenage (20), wat pas aan die Hoërskool Lutzville gematrikuleer het, moes verskeie struikelblokke oorkom om te kom waar hy vandag is.
Outisme en erge spraak-apraksie is op sewejarige ouderdom by Henco gediagnoseer.
Maar die groot jong man het elke dag hard gewerk sodat hy sy matriekjaar suksesvol kon afsluit. Hy het gister matriek met toelating tot diplomastudies geslaag.

Sy ma, Tertia, vertel dat hulle aan die begin nie geweet het wat met Henco fout was nie, hoewel hy 'n spraak- en arbeidsterapeut in die tyd gesien het - en volgens hulle was daar nie tekens van outisme nie.
"Hy het twee jaar in gr. R deurgebring, want hulle het destyds gesê hy is nog nie gereed vir ‘groot' skool nie. Hy is ná sy tweede jaar na gr. 1 toe.
"Ons is toe na 'n laerskool in Vredendal om ons situasie te verduidelik, maar hulle het nie kans gesien vir hom nie. Ons het hom daarna na Nouveau Kollege, 'n private skool, gestuur."
Henco het daarna sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Lutzville, 'n hoofstroomskool, begin.
Volgens Tertia het hulle van die begin af geweet die skool is waar Henco eendag sy skoolloopbaan sou begin en afsluit, asook rugby sal speel.
"Ons het gesien hoe gedissiplineerd die kinders is. Alles gebeur betyds en alles is georden. Ons het geweet Henco sou mooi inpas by die skool.
"Ek het met die skoolhoof, Marlida Lombard, kom gesels en vir haar verduidelik wat Henco se probleme is. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie.
"Marlida sê toe dat hulle niks weet van outisme nie, maar dat hulle bereid is om 'n pad met Henco te stap. En vandag is hy klaar met matriek," sê sy trots.
Henco sê op sy eerste dag by die skool het hulle hom dadelik met ope arms verwelkom.
"Almal was net so vriendelik en die leerlinge het sommer net na my toe gekom om met my te gesels. Hulle sê toe vir my ek moet dit geniet hier by die skool.
"Dis toe dat ek besef dat die skool 'n groot impak op my gaan maak en dat ek op die wêreld daarbuite voorberei gaan word," sê hy.
Vir Henco was sy grootste uitdaging by die skool dat hy dalk nie so goed met die leerlinge sou kommunikeer nie.
"Ek was nogal gestres, want ek het gedink hoe gaan ek goed met die mense op hoërskool kan kommunikeer? Ek kan nie dadelik reageer wanneer iemand te vinnig praat nie. Jy moet eers stadig met my praat, dan kan ek eers reageer," voeg hy by.
Dit was vir Henco 'n groot aanpassing en 'n reuse-uitdaging, maar omdat hy so hard en pligsgetrou gewerk het, was hy elke jaar suksesvol.
Veral Afrikaans was vir hom uitdagend omdat hy dit op huistaalvlak moes neem en letterkunde baie interpretasie vereis.
Tertia noem dat hulle aan die einde van Henco se gr. 7-jaar een van die onderwysers by die Nouveau Kollege genader het om sy tutor te wees.
"Gedurende die dag was Henco by die skool en dan in die middag sou hy na Sonia Visser gaan vir verdere lesse. Die enigste tyd wat hy alleen was, was gedurende die Covid-19-pandemie."
Sonia, wat al 45 jaar in die onderwys is, sê dit was vir haar 'n belewenis om Henco te kon onderrig.

"Hy is mal oor die voorgeskrewe boeke asook gedigte. Ek het maar altyd vooraf gelees en dan gaan ons weer saam deur alles. Maar wat my altyd verbaas het, is dat hy nooit net die antwoorde neergeskryf het nie. Hy wou weet hoekom is dit die antwoord of hoekom dat as hy nie iets verstaan nie.
"Hy het hom ingeleef in die gedigte asook die boeke. Ons het die vrae saam bespreek en dan sal hy sê wat hy van iets dink.
"En ek was verheug oor die feit dat hy dinge self wou doen. Ek gaan dit baie mis! Hy het altyd gespot en gesê as hy matriek klaar maak, dan gaan hy darem baie slim wees," sê sy laggend.
Sy voeg by dat hy nooit agter wou raak met sy werk nie, en daarom het hy gedurig vooruit gewerk.
"Ek is verskriklik trots op hom. Hy was vir my 'n voorbeeld van wat in 'n mens steek as jy hard werk."
Volgens Tertia het hy gedurende Covid-19 pligsgetrou soggens opgestaan en gewag vir die WhatsApp met die skoolwerk wat gedoen moet word.
"Dan bel hy vir Sonia en hy het dan nie opgehou werk totdat daardie werk afgehandel was nie."
Henco het ook in 2020 'n spesiale toekenning vir deursettingsvermoë en lojaliteit van die Hoërskool Lutzville ontvang.
Volgens Henco wou hy net sy matriek slaag, maar hy het geweet sy en Sonia se harde werk sou vrugte afwerp.
"Ek sien uit na wat die toekoms vir my inhou. Ek wou bitter graag by die Britse weermag aansluit, maar ongelukkig kan ek nie meer nie. My tweede opsie is om 'n wapensmid te wees. Maar vanjaar gaan ek eers 'n oorbruggingsjaar neem en konsentreer op Speckled Tortoise, my besigheid waar ons allerhande goed herwin."





















