'n Skool in Bedfordview ervaar vandag die uitdrukking " 'n lag met 'n traan".
St Benedict's College vier die matrieks van 2023 se puik prestasies, maar treur ook oor die afsterwe van een van die skool se top-matrikulante.
"Woorde kan nie beskryf hoe diep hartseer ons is om die nuus te deel dat Declan Murphy, 'n liefdevolle jong man wat vanjaar in gr. 12 was, oorlede is nie," skryf St Benedict's op 29 Desember verlede jaar op die skool se Facebookblad.
"Declan het 'n ongeluk gehad terwyl hy saam met sy gesin op vakansie was en ernstige kopbeserings opgedoen. Sy dokter en die personeel by die hospitaal in George het alles gedoen wat hulle kon, maar hy is ongelukkig gister om 17:05, omring deur familie en vriende, oorlede."
Declan het matriek met vyf onderskeidings geslaag.
St Benedict's se skoolhoof, Dave Jeffrey, het in 'n verklaring opnuut medelye met Declan se familie betoon.
"Declan was 'n belowende lid van ons skoolgemeenskap en sy ontydige afsterwe in Desember laat 'n leemte in die klas van 2023.
"Ons wil graag steeds die bydrae wat hy gelewer het erken. Declan was veelsydig. Hy het waterpolo op provinsiale vlak gespeel en het erekleure vir waterpolo en rugby gekry."
Declan was, volgens Jeffrey, ook 'n kranige swemmer en het uitgeblink in sy akademie en talle buitemuurse aktiwiteite.
"Dis nie maklik om te aanvaar dat Declan nie meer met ons is nie, maar hy sal altyd in ons harte voortleef en sy woorde, ‘onthou altyd om te bid - nie net vir makliker dae nie, maar om 'n sterker mens te wees', sal ons altyd bybly."
Hoewel die St Benedict's klas van 2023 rou, is daar ook rede om fees te vier.
Angelo Bastos spog met nege onderskeidings en 'n gemiddeld van 91,3%. Dylan Ho se gemiddeld is 91,3% en hy het agt onderskeidings behaal. Sabelo Shangase het sewe onderskeidings vermag en 'n gemiddeld van 88,1%. -Netwerk24




















