
Uitstekende akademiese prestasie en veelsydigheid kenmerk die inskrywings van die finaliste en semi-finaliste in die 40ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad.
Die 25 topmatrieks wie se name vandag bekend gemaak word, is die room van die oes van byna 70 inskrywings van oor die land heen.
Hierdie leerlinge het presteer ondanks die beperkings van die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie en voldoen aan die vereistes van prestasie op akademiese, leierskap-, sport- en kultuurgebied.

Die Kovsie Alumni-trust is die hoofborg van die kompetisie en gee R125 000.
Die ander borge is Absa (R85 000), Pick n Pay Preller Walk (R15 000 vir die wenner en kombuisware vir die 14 finaliste) en Mazars (R35 000).
Die 14 finaliste en hul ouers word gedurende die eindronde van 5 tot 7 Oktober in die Tsogo Southern Sun-hotel in Bloemfontein bederf.
Die wenner ontvang R25 000 prysgeld in sy of haar Absa-rekening na registrasie in 2022 en 'n studiebeurs van R12 000 van UV-Studentewerwing.
Die 13 finaliste kry R12 000 prysgeld, ook na registrasie, in 'n Absa-rekening, asook 'n studiebeurs van R7 500 en ander geskenke van die borge.
Twee spesiale pryse van R5 000 elk word geskenk deur die Kovsie Alumni-trust en sal toegeken word vir uitstaande persoonlike prestasie.
Die 11 semi-finaliste kwalifiseer vir 'n studiebeurs van die UV (R3 500) en 'n kontantprys van die borge (R5 000) sodra hulle hul in 2022 aan die UV registreer.
Tydens die finale beoordeling in Bloemfontein sal ses beoordelaars, wat die borge verteenwoordig, onder meer onderhoude voer met die 14 finaliste.
Die kompetisie se ouditeurs, Mazars, sal deurentyd teenwoordig wees om seker te maak die beoordeling verloop glad en regverdig.
Streng Covid-19-protokolle sal ook te alle tye nagekom word.
- Die 14 finaliste en 11 semi-finaliste se foto's verskyn hier in alfabetiese volgorde.













