Lucky Moleyane wil net soos sy rolmodel, die Olimpiese atleet Usain Bolt, groter en beter dinge in atletiek behaal. Lucky, wat met universiteitsvrystelling aan Grey Kollege in Bloemfontein matriek geslaag het, blink uit in die 100 m en 200 m. In die 100 m is sy persoonlike beste tyd 10.12 en in die 200 m 20.61. Hy vertel hy hardloop al vandat hy in gr. 1 is.
"Ek was in die Kruitberg Primêre skool in Bloemfontein en het sommer dadelik begin om aan atletiek deel te neem. Ek het maar net gehou van hardloop en het nooit gedink ek sou so daarin presteer nie."

Lucky het vandat hy in gr. 3 is 'n private afrigter en was verlede jaar deel van die Royal Speed-klub saam met wie hy geoefen het. Hy was in 2021 deel van die Suid-Afrikaanse o. 20-4 x 100 m-aflosspan wat 'n rekord van 38.51 op die junior wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Kenia opgestel het. Hy is geen vreemdeling as dit kom by die spat van rekords nie - hy het by Grey Kollege 'n rekord in die 200 m wat al in 2003 deur LJ van Zyl opgestel is, verbeter.
"Ek begin nooit 'n wedloop met die idee om 'n rekord te verbeter nie. Dit plaas te veel druk op my en dan kan ek nie konsentreer nie. Ek fokus eerder daarop om my eie beste tye te verbeter."
Ongelukkig het hy in Maart verlede jaar 'n dyspierbesering opgedoen en moes hy die 2022 Statebond Spele in Birmingham, Engeland, misloop asook die Wêreld Atletiek o. 0 Kampioenskap wat in Cali, Colombia gehou is.
Hy sê dit was ook 'n uitdaging om die harde werk wat atletiek vereis te balanseer met die uitdagings van matriek.
"Dit het my regtig geestelik uitgeput. Ek oefen vyf dae per week vir minstens twee uur. Dan moet ek saans my skoolwerk kom doen. Soms was ek so moeg dat ek net gaan slaap het," lag hy.
Lucky het gelukkig ten volle herstel van die dyspierbesering en hy het in Desember deelgeneem aan die 2022 African Union Sports Council (AUSC) Region V Youth Games in Lilongwe, Malawi. Hier het hy weer bewys hy is 'n atleet om dop te hou en het hy twee individuele goue medaljes gewen in die 100 m (10.12) en 200 m (20.88). Hy was ook deel van die mans-aflosspan wat in die 4x100 m goud gewen het met 'n tyd van 40.72.
Lucky is nog nie seker in watter rigting hy wil studeer nie.




















