Matrieks

Hou dop, hier kom ’n Springbok!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Risima Sambo het verlede jaar in die Wit Bul-trui van die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se eerste rugbyspan uitgedraf. Vanjaar dra hy 'n Haaie-trui, en hopelik sien Suid-Afrika hom binnekort met die Groen-en-goud op die internasionale rugby-verhoog.

Risima het met universiteitsvrystelling aan Affies gematrikuleer. Dit was so hittete of hy het nooit 'n rugbybal opgetel nie.

Risima Sambo in aksie op die rugbyveld. Foto: Actionpix
Risima Sambo in aksie op die rugbyveld. Foto: Actionpix

"Ek was in die Laerskool Pietersburg-Oos in Polokwane. Daar het ek meer in sokker belanggestel. Ek was smiddae in die naskool, en het elke middag gesien hoe 'n groep seuns na die rugbyveld beweeg. Een middag toe val ek sommer by hulle in. Dit was toe my eerste rugbyoefening, en die res, soos hulle sê, is geskiedenis!"

Risima sou aanvanklik na die Hoërskool Garsfontein gegaan het, maar toe hy een middag in gr. 7 'n wedstryd van die Wit Bulle op televisie sien, wou hy volstrek Affies toe.

"Daar is niks soos die atmosfeer van skolerugby nie. Jou broers moedig jou aan vanaf die paviljoen, mense braai en die gees is net ongelooflik."

Risima het verlede jaar met sy natuurlike spoed vleuel gespeel en was een van die uitblinkers in die eerste rugbyspan. Hy vertel hy is nog nooit regtig op die veld beseer nie, maar soos die noodlot dit wou hê, is hy verlede jaar aan die einde van Maart beseer tydens 'n wedstryd teen Paul Roos Gimnasium toe 'n teenstander op sy enkel geval het.

"Gelukkig was dit nie gebreek nie en kon ek aan die begin van Junie weer op die veld wees. Ek voel ook die besering het van my 'n sterker en beter speler gemaak. "

Sy gunsteling-Springbok is Cheslin Kolbe, maar sy gunstelingspeler is die All Black Rieko Ioane.

As jy werk wanneer jy moet, kan jy rugby speel wanneer jy wil!

"Hy is so konstant, as hy op die veld kom, dan weet 'n mens iets gaan gebeur. Dit is presies hoe ek ook wil speel, so hy is 'n groot inspirasie vir my."

Risima is in die 2021- SA oefengroep ingesluit wat teen Georgia sou speel. Weens Covid-19-beperkinge het die toer nie gebeur nie. Hy was ook lid van die Blou Bulle se Cravenweekspan.

Hoe balanseer 'n mens so baie rugby en die uitdagings van matriek?

"Ek dink dit het alles met tydbestuur te doen. As jy werk wanneer jy moet, kan jy rugby speel wanneer jy wil!" sê hy laggend.

Vanjaar het Risima KwaZulu-Natal toe getrek en gaan hy lid wees van die Haaie se o.20-span. Hy gaan ook sakestudies studeer.

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM