Die inperking en Covid-19-pandemie het die lewe vir ons almal moeilik gemaak, maar dit was ekstra uitdagend vir diegene wat hulle graag op die verhoog uitlewe.
Só sê Karli Marais, 'n oudleerling van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp wat matriek met drie onderskeidings, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid, geslaag het.

"Ek het in my hoërskooljare aan alles van toneel en koor tot spreekkoor, redenaars en netbal deelgeneem. Verlede jaar het ek besluit om net op toneel en akademie te fokus.
"In 2020, toe ek in gr. 10 was, kon niemand optree nie en dit was 'n aaklige tyd vir iemand wat so lief is vir drama en toneelspeel soos ek! Ek het toe van Pronk Digitaal se Podium gehoor en het in gr. 10 met my inskrywing, Vry, 'n derde plek behaal. 'n Vriend het my sommer afgeneem. Dit was lekker maar stresvol want jy moet jou eie regie doen en kan nie op die energie van die gehoor staatmaak nie."
In gr. 11 het Karli ook aan verskeie kompetisies, insluitende Pronk Digitaal en die ATKV se Tienertoneel en Nasionale Toneelkompetisie, deelgeneem en uitstekend gevaar.
Maar dit was verlede jaar dat sy egter regtig in die aanlyn monoloog Raas geskitter het. Sy is as die algehele wenner in Pronk Digitaal en ook die FAK se toneelkompetisie aangewys.
Karli se opname van Raas is ook op vanjaar se Aardklop-fees gespeel. "Ek kon dit ongelukkig nie in persoon opvoer nie, maar ek weet dit is goed ontvang toe dit op Aardklop gewys is."
Karli was ook in die ATKV-DigiToneel se top-agt-finaliste vir 2022. Sy het as gevolg daarvan op die Via-program Gekies vir die kollig verskyn.
" 'n Monoloog is so 'n lekker uitdaging want ek kan vir myself bewys ek het die vermoë, en ek kan ander mense se stories vertel."
Karli was ook in 2021 en verlede jaar deel van dramagroepe wat uitstekend gevaar het. "In 2021 was ons 'n groep van ses wat die stuk Vier Vingers opgevoer het. Ons is Kaap toe en het vierde in die land in die ATKV se Tienertoneel geëindig.
"Verlede jaar is ons weer Kaap toe, ons was toe 'n groep van 11 wat die stuk Na 'n ander aarde opgevoer het. Ons het onder die toptien geëindig en in die Kunstekaap-teater opgetree.
"Dit is heerlik om saam met ander akteurs op die verhoog te wees en dit bied weer sy eie uitdagings. Ons word mekaar se ‘tribe' en deel die oorwinnings!"
Karli gaan vanjaar onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer en wil graag eendag vir die grondslagfase (gr. 1 tot 3) skool gee.



















