Haar kankerdiagnose en die pad wat sy sedert daardie dag stap, is vir Morgan Dalhouzie (18) 'n bedekte seën.
Volgens dié gewese leerling aan die Hoërskool Stellenberg in Belville, leef sy baie nader aan God nadat akute miëloïede leukemie in Julie 2021 by haar gediagnoseer is.
"Ek het 'n hele ander uitkyk op die lewe en ek is nie meer so gestres nie. Ek het ook meer vrede. En ek is baie meer positief oor die lewe. Dit mag dalk snaaks klink as ek sê my kanker is 'n bedekte seën.

"Daar het soveel goeie goed uit hierdie hele kanker-reis gekom. Ek het soveel nuwe mense leer ken en soveel goed ervaar," sê sy.
Akute miëloïede leukemie is een van die gevaarlikste soorte bloedkanker.
Morgan vertel dat sy en haar ouers eers gedink het dat sy dalk Covid-19 opgedoen het toe sy vreeslik uitasem was en haar eetlus verloor het.
"My pa het toe besluit ons moet na die Mediclinic Cape Gate gaan om te kyk of alles pluis is voor die skool weer begin. En ek het net vir myself gesê die ergste wat kan gebeur, is dat hulle sê ek het Covid-19 opgedoen. Bloedtoetse is gedoen en ek is meegedeel dat dit toe nie Covid-19 was nie.
"Ek moes nog bloedtoetse ondergaan en ek is ook dieselfde tyd opgeneem in die hospitaal. Ek het niks erg verwag nie en ek was baie beïndruk met my kamer. Toe my ouers inkom, was hulle albei tranerig. Die dokter het in my kamer gekom en gesê ek het akute miëloïede leukemie. Ek het dadelik in trane uitgebars, want voor toe het ek nog nooit van die tipe kanker gehoor of geweet nie. En my hele lewe is daardie dag omgekeer," sê sy.
Morgan het die aand in die hospitaal deurgebring en is die volgende dag na die Netcare Kuilsrivier-hospitaal oorgeplaas.
"My bloedtelling was gevaarlik laag, en ek moes dadelik bloedoortappings kry. Dit was die begin van my eerste hospitaalverblyf wat ongeveer vier weke geduur het. Oorweldig en met gemengde emosies het ek my eerste ronde van chemoterapie begin wat onophoudelik vir sewe dae was. Basies 24/7.
"Chemoterapie kom met veelvuldige newe-effekte, aangesien dit jou slegte sowel as jou goeie selle doodmaak. Dit het ook my immuunstelsel uitgewis, so ek het my hospitaalverblyf in isolasie deurgebring en net my ouers kon my besoek."
Morgan se dae het bestaan uit talle bloedtoetse, beenmurgbiopsies, bloed- en plaatjie-oortappings, die kontrolering van haar temperatuur. Personeel moes ook oplet na tekens van 'n inwendige infeksie, aangesien dit gevaarlik is vir iemand wat geen immuunstelsel het nie.
"Dit was beslis nie alles maanskyn en rose nie. Daar was dae wat ek gevra het ‘Gaan ek dit maak? Gaan ek oorleef?' "
Morgan is in die tyd meegedeel dat sy 'n beenmurgoorplanting sal moet kry. "Jy het 'n een uit vier kans dat 'n broer of suster 'n skenker kan wees, maar my broer was nie een nie. So het ons soektog vir 'n skenker begin.
"Nadat ek ontslaan is, was ek geskeduleer om weer in te gaan vir 'n tweede ronde chemo, maar ek het wat hulle 'n ‘superbug' noem, opgedoen en die konvensionele chemo sou te gevaarlik gewees het, indien nie dodelik nie.
"Ná gesprekke met dokters in Amerika, is my behandelingsplan verander en ek kon by die huis bly, maar moes chemo-medikasie neem wat onder meer inspuitings in my maag ingesluit het.
"In daardie stadium het ek al my hare verloor, was swak en heeltyd naar, en die lewe by die huis was soos die vlak 6-inperking, maar dit het my veilig gehou het teen alle virusse en infeksies. Ek het geduldig gewag vir 'n skenker. En weer het ek gewonder of ek 'n skenker gaan kry, of dit alles die moeite werd is, en of ek gaan oorleef.
In Oktober daardie jaar het sy die goeie nuus ontvang dat die behandeling gewerk het en dat hulle 'n skenker gevind het.
"Daar was net een perfekte skenker in die hele wêreld. Die skenker was gesond en het ingestem om haar stamselle te skenk. Dit was 'n absolute seën waarvoor ek ewig dankbaar sal wees.Ek is terug hospitaal toe vir my laaste ronde chemo en die beenmurgoorplanting.
"Die ronde chemo was op 'n ander vlak. Hulle moes my beenmurg en enige leukemieselle doodmaak wat nog in my liggaam was, en het ook my immuunstelsel tot nul gebring sodat my liggaam nie teen die nuwe stamselle sou veg nie.
"Ek het gedink ek was hierop voorberei, maar dit het hard getref en my na 'n plek geneem waar ek gesukkel het met my geestelike welstand en positiwiteit. Ek het my beenmurgoorplanting op 2 Desember daardie jaar ontvang en ek moes nog drie weke in die hospitaal deurbring in isolasie. Daarna het nog 100 dae van herstel voorgelê."
Sy sê dat sy soms terugflitse kry van haar tyd in die hospitaal. Sy is eers aan die einde van die eerste kwartaal in 2022 terug skool toe, en het die geleentheid met albei hande aangegryp.
"Ek het gou weer in 'n roetine gekom en die skool, my vriende en my ouers het my geweldig ondersteun. En daarvoor is ek hulle ewig dankbaar."
Haar kanker is nou in remissie, maar sy moet steeds elke ses maande biopsies laat doen om te verseker dat daar nie meer kankerselle is nie. Sy moet ook elke drie maande 'n roetineondersoek ondergaan.
Morgan het gister matriek met toelating tot graadstudies geslaag en gaan vanjaar maatskaplike werk aan of die Universiteit Stellenbosch of die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. "Ek wil graag kankerpasiënte help, want ek weet hoe dit voel om vrae te hê oor jou toestand. Ek wil iemand wees wat ander help."




















