Matrieks

Katlego reeds ’n sake-eienaar en entrepreneur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Katlego Motcewane (18) is baie duidelik geseën met 'n entrepreneursgees. Sy het verlede jaar met matriekvrystelling aan die Pretoria High School for Girls gematrikuleer en terselfdertyd 'n suksesvolle onderneming bestuur.

"Ek het aan die einde van gr. 9 my onderneming, Kat's Care Packages, begin en dit op sosiale media begin bemark. Dié omgeepakkies bevat heerlike geskenkies vir almal, of dit nou vir 'n spesiale verjaarsdag of 'n geleentheid soos Valentynsdag of Kersfees is.

"Ek stuur ook die pakkies landswyd. Vir die eksamentydperk verlede jaar het ek byvoorbeeld baie pakkies opgemaak met dinge om leerlinge en studente deur die eksamen te help, soos energiehappies en -drankies en skryfbehoeftes. Een persoon het selfs 14 pakkies op een slag bestel!"

Katlego Motcewane
Katlego Motcewane

Katlego sê haar idee vir haar onderneming het posgevat toe sy in gr. 8 só 'n omgeepakkie by 'n vriendin gekry het.

"Ek het gedink dit is 'n wonderlike idee, ek wil dit self probeer. My onderneming was so suksesvol dat ek my broer en ma moes vra om te help. Gelukkig is dit nogal seisoenaal en nie iets wat konstant aandag nodig het nie. "Ek wil graag daarmee aanhou, maar ek is nie seker hoe dit sal gaan wanneer ek op universiteit is nie."

Dit is geen verrassing dat Katlego vanjaar logistiek en besigheid gaan studeer aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie nie.

"Natuurlik wil ek 'n sake-eienaar en entrepreneur wees. Ek wil selfs terwyl ek studeer moontlik in die skoonheidsbedryf begin werk as 'n kantjoppie en dalk 'n naeltegnikus of haarstilis word. Ek sien myself as my eie rolmodel - ek is so trots op wat ek verlede jaar bereik het, want daar is tye wat ek nie gedink het ek gaan suksesvol wees nie."

Katlego vertel dat haar gunstelingvak op skool nie besigheidstudies was nie, maar wel Duits.

"Duits is so 'n interessante taal. Almal kies Frans as hul tweede addisionele taal, maar ek het net aanklank gevind by Duits. Ek was self al in Duitsland en dit is vir my 'n pragtige land. Ek sal dit baie graag weer wil besoek. En die feit dat ek die taal bestudeer het, gee aan my 'n voordeel!"

Katlego voel haar generasie kan 'n verskil maak in Suid-Afrika deur hul stemme by vanjaar se verkiesing dik te maak.

"Ons almal verdien 'n land sonder beurtkrag. Ons moet opstaan en ons stemme laat hoor!"

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM