Om matriek te skryf én jou eie onderneming te bestuur, sit nie in almal se broek nie. Aisha Folaranmi (18) deins egter nie terug vir 'n uitdaging nie, en met haar kreatiwiteit en entrepreneursvernuf het sy verlede jaar sukses gesmaak.
Aisha het matriek geskryf aan die Pretoria High School for Girls en met universiteitsvrystelling geslaag terwyl sy ook haar onderneming, Oreoluwa's Closet, bedryf het. Sy hekel kledingstukke, van hoede tot rokkies, wat 'n groot treffer onder haar medeleerlinge en die wyer publiek is.
"Ek het in gr. 5 geleer brei, maar was nie mal daaroor nie. Ek het toe ook geleer hekel, maar nie daarmee volgehou nie.
"In gr. 7 het ek weer begin brei en in gr. 10 het ek 'n TikTok-video gekyk oor hekel en toe weer my liefde daarvoor ontdek.
"Ek het 'n YouTube-video gekyk en daarvolgens 'n ‘bra-let', of mini-toppie, gemaak. Ek het my produkte op sosiale media begin adverteer, en mense was mal daaroor. My onderneming is nou twee jaar oud en ek voel vol vertroue dat ek amper enigiets kan hekel!"
Aisha is baie doenig op Instagram (@ore.clo), en op TikTok (aisha.oreo) het sy meer as 3 000 volgelinge.
"Tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi het ek 'n video opgesit van my klein sussie wat saamsing met Bernice West se ‘Lyfie', en daardie video is meer as 'n miljoen keer gekyk! Jacaranda FM het selfs daaroor berig."
Aisha vertel sy betrek soms een van haar sussies om te help met die gehekel, maar meestal is dit net sy wat al die werk doen. Dit was verlede jaar ook vir haar 'n uitdaging om haar tyd doeltreffend te bestuur.
"Daar is soveel druk op matrieks en dis maklik om oorweldig te voel. Die jaar het ook so vinnig verby gegaan, en dis belangrik om jou matriekjaar te geniet, maar om ook al jou doelwitte te bereik."
Aisha het groot planne vir 2024.
"Ek wil Oreoluwa's Closet vanjaar verder ontwikkel, en ek wil ook nog 'n onderneming begin wat skoonheidsprodukte verkoop. In die grendeltyd het ek lipglans gemaak en dit verkoop, so ek wil verder gaan en ander produkte soos pruike en vals wimpers ook verkoop."
Met haar entrepreneursgees sou 'n mens dink Aisha gaan besigheidstudies swot, maar haar plan is om as 'n sielkundige te kwalifiseer.
"Ek gaan vanjaar BA (sielkunde) by Wits studeer. Geestesgesondheid is vir my baie belangrik en ek droom daarvan om 'n verskil in minderbevoorregte mense se lewens te maak. Nie almal kan 'n mediese fonds bekostig nie, so ek wil graag in gemeenskappe werk en mense so help."




















