Sy het eers in gr. 10 begin verf, sê Kyla Vermeulen, en sedertdien rol die toekennings en bewondering vir haar werk in.
Kyla, wat aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer het, het in haar laaste drie skooljare erekleure vir kultuur ontvang danksy die prestasies wat sy op kunstefeeste behaal het. Sy was een van die uitblinkers in 2022 se Youth Arts Festival, waar sy 100% ontvang het vir al drie die skilderye wat sy ingeskryf het. Uit die meer as 1 000 inskrywings in dié kompetisie het sy algeheel tweede geëindig.

In 2021 was sy die naaswenner van AfriForum se skolekuns-kompetisie. AfriForum het ook van haar werk by haar gekoop, en dit word in die AfriForum-teater uitgestal.
"Dis my kunsonderwyseres, Suzaan Alberts, wat my aanmoedig en vir al die kompetisies inskryf."
Volgens haar wou sy kuns eers as vak los en eerder biologie neem. Kuns het haar egter bly teruglok omdat sy haar kreatiwiteit vrye teuels kan gee - iets wat nie noodwendig in 'n vak soos biologie moontlik is nie.
"Dit is vir my baie lekker dat mense my werk sien en dit vir hulself kan interpreteer. Ek leef myself uit in my kuns, en dit is wonderlik om te sien hoe mense dan hul eie emosies en stories daaraan koppel."
Kyla het ook die ATKV se Digi-kuns-kompetisie in die skilderafdeling gewen, sowel as die publiek se prys (haar kunswerk het die meeste "likes" op die ATKV se digitale platforms gehad).
Baie van haar werk is portrette, omdat mense hulself kan vereenselwig met gesigte, meen sy. "As jy die emosie op 'n gesig kan sien en dit herken, vind jy dadelik aanklank by die werk. Ek vind dikwels inspirasie in my opstel-temas en laat dinge dan oorvleuel - 'n opstel inspireer dalk 'n kunswerk, of 'n kunswerk gee my inspirasie om te skryf."
Kyla is by die Universiteit van Pretoria aanvaar om vanjaar chemiese ingenieurswese te studeer, maar sy het ook 'n droom om dalk dermatologie 'n loopbaan te maak. "Eintlik sou ek net 'n kunstenaar wou wees, maar vir nou sal ek dit maar 'n stokperdjie hou en kyk wat in die toekoms gebeur!"
Boonop spog die kunstige meisie met onderskeidings in haar eindeksamen. Kyla het onderskeidings verwerf in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, fisiese wetenskappe en visuele kunste.



















