Matrieks

Kyk nuut na alles ná beroerte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Tot op hierdie uur weet dokters nie wat daartoe gelei het dat Hannes van Dyk op 17-jarige ouderdom 'n akute beroerte op die serebellum gekry het.

Dié 18-jarige matriekleerling van die Hoër Jongenskool Paarl het nooit gedink dat so iets met hom sal gebeur nie.

Hy het gister matriek met toelating tot diplomastudies geslaag.

"Hulle het genetiese toetse, bloedtoetse en 'n klomp ander toetse gedoen wat jy kan kry, maar dit het niks opgelewer nie. Op een dag het hulle 18 flessies bloed getrek om uit te vind wat gebeur het. Ons het ook nie 'n familiegeskiedenis van beroertes nie. Dit bly steeds 'n raaisel," vertel Hannes.

Dit is steeds vir dokters 'n raaisel hoekom Hannes van Dyk op 17 'n beroerte gekry het. Foto: Verskaf
Dit is steeds vir dokters 'n raaisel hoekom Hannes van Dyk op 17 'n beroerte gekry het. Foto: Verskaf (SYSTEM)

Die beroerte het op 29 Maart 2023 gebeur. Hulle was besig om klasse te ruil toe hy begin sleg voel, sê hy.

"Ek het erge tinnitus in my regteroor gekry en was verskriklik duiselig en het gesukkel om te praat. Ek was ook heeltemal van balans af. Ek het eers gedink dit is 'n hoofpyn wat sal weggaan of dalk vertigo.

"Ek het later vir my vriend, Albert, gesê iets is nie reg. Ek wou later opgooi en ek sê toe vir Albert ek dink ek moet kantoor toe gaan, maar ek kon nie op my voete staan nie. Hulle moes my toe na die kantoor dra. Ek was verskriklik naar en ek het baie opgegooi. Almal het gedink dit is my bloedsuikervlak. Die een kant van my kop was ook baie swaar en ek wou net heeltyd lê.

"Ons het toe my ma in die hande gekry sodat sy my na die Mediclinic-hospitaal in die Paarl kon neem. Die een dokter het gedog dit is 'n vertigo-kristal omdat dit meer geneig is om te gebeur. Hy het ook gesê dat dit moontlik 'n beroerte kan wees, maar dis onmoontlik vir iemand van my ouderdom.

"Hulle het toe probeer uitpluis wat fout is en 'n oor-neus- en-keel-spesialis gekry. Hy het toe gesê ek moet gaan vir 'n CAT-skandering en dit het bevestig dat dit 'n beroerte was."

Hannes vertel verder dat hulle hom na 'n hospitaal in Kaapstad gestuur het waar hy dadelik na die intensiewesorgeenheid gestuur is.

"Ek het die nag daar deurgebring, maar het eers die volgende dag besef wat met my gebeur het. Die dokters het alles aan my verduidelik en hulle was baie geduldig met my. In die dae wat ek in die hospitaal deurgebring het, het ek en die dokters agtergekom hoe baie van my vaardighede soos loop, skryf en praat geaffekteer is deur die skade aan my brein.

"Hierna was dit toe 'n kwessie van rehabilitasie waar ek 'n fi­sioterapeut, 'n arbeidsterapeut en 'n spraakterapeut moes sien. Gewoonlik maak beroertes jou aan die een kant lam. En omdat ek so jonk en fiks was, het die dokters gesê dit het baie gehelp met my herstelproses. Ek het baie vinnig herstel in vergelyking met ouer mense," sê hy.

Volgens Hannes het hy aan die begin van sy herstelproses vir almal gesê "ek is oukei. Dit is net die Here wat vir my sê hoe dankbaar ek moet wees vir wat ek het."

"Ek was heeltyd verskriklik positief. Maar hoe langer die proses aangegaan het, het ek besef watter impak dit eintlik op my lewe gehad het. Ek was veral bekommerd oor my akademie, want ek kon glad nie skryf nie. Ons het eendag 'n toets gedoen en my woord per minuut was letterlik een. Ek was in skok, maar ek het herstel tot op 'n punt waar ek aanvaar wat met my gebeur het en aanbeweeg het."

Hannes sê verder dat hy nogal bekommerd was dat hy sy jaar sou moes oordoen omdat hy drie weke van klas misgeloop het en die feit dat sy punte so drasties afgeneem het.

"Ek het in 'n stadium gedink hulle sou my nie kon akkommodeer vir die finale eksamen nie en ook of ek 'n transkribeerder mag hê of nie.

"Ek was ook bekommerd oor my fiksheid, want ek is baie lief vir oefen en om gym toe te gaan. Ek het gedink die dokter sal dalk sê dat ek nie weer mag gym nie, maar gelukkig was dit die teenoorgestelde.

"Ek is baie dankbaar tenoor my terapeute en my ouers wat my gehelp het om te kom waar ek vandag is. Sonder hulle sou ek nie hier gewees het nie."

Volgens Hannes voel dit asof die beroerte "al my hele lewe lank deel is van my, maar dit voel ook soos gister".

Hy voeg by dat hy glad nie sy matriekjaar sou wou oordoen nie, beroerte ingesluit.

"Dit het regtig vir my 'n ander perspektief op die lewe gegee en my in 'n meer nederige ingesteldheid geplaas. Alles wat ek het, kan vergaan. Om elke oomblik te waardeer is wat nou vir my belangrik is. Ek dink voor my beroerte was ek so gefokus op die toekoms en net om die heeltyd daar uit te kom. Ek het nie besef wat ek het in die nóú nie.

"Dit het my definitief ook nader aan die Here gebring. I knew of Him but I didn't know him. Ek is nie die skrywer van my eie storie nie. Dit klink dalk snaaks, maar ek het 'n storie om te vertel," sê hy.

Hannes gaan vanjaar 'n oorbruggingsjaar neem, maar hy wil baie graag vanjaar by die brandweer aansluit. "Dit is iets wat ek baie graag wil doen. Dit is 'n werk waar ek kan uithelp en teruggee aan mense. As ek kan teruggee en lewens red soos my lewe gered is, sal dit vir my baie gelukkig maak."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM