Matrieks

‘Letters swem’, maar hy pas aan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Danksy ’n goeie geheue, onderwysers en vriende het Adriaan Vlok nooit gevoel dat sy disleksie hom terughou nie.Foto: VERSKAF
Danksy ’n goeie geheue, onderwysers en vriende het Adriaan Vlok nooit gevoel dat sy disleksie hom terughou nie.Foto: VERSKAF

Om met disleksie te leer, is nie aldag maklik nie, maar Adriaan Vlok het lank­al geleer hoe om aan te pas en wat vir hom werk.

Adriaan (18), wat aan die Hoërskool Labori in die Paarl gematrikuleer het, het aan die begin van gr. 7 gehoor disleksie is by hom gediagnoseer. Hy het gister matriek met universiteitsvrystelling geslaag.

"In gr. 2 het die skool gesê ek sukkel vreeslik om te lees, beantwoord nie goed reg nie en my spelling is nie reg nie. Toe het ek later vir toetse gegaan en in gr. 7 uitgevind ek is disleksies.

"Ek kan 'n woord nou spel en vyf minute later spel ek dit verkeerd. Dit is asof die letters rondswem as ek skryf, spel of lees."

Die maklikste manier wat Adriaan disleksie aan iemand sal verduidelik, is as volg: "Dit is soos om konstant hangmannetjie te speel. Jy sien van die letters en raai die res. Jy kom ook soms in die middel van die woord en besef dan jy het verkeerd gelees."

Terwyl die Covid-19-pandemie 'n moeilike tyd vir baie matrikulante was, voel Adriaan egter dat dit hom effe bevoordeel het.

"Dit het my tot 'n mate bevoordeel, want al die skoolwerk is afgerol en ons het op Google Classroom gewerk. Ek kon dus teruggaan en weer na die klasse kyk as ek nie lekker kon sien of konsentreer nie."

Hy sê die skool was baie tegemoet­komend teenoor sy disleksie en onderwysers en sy vriende het hom baie gehelp.

"My Engels-onderwyseres het altyd as ek met iets sukkel ná klas gevra of ek verstaan en of daar iets is wat sy weer moet verduidelik.

"Sy het ook soms toegelaat dat ek opstelle tik, want dit is vir my makliker om te tik as om te skryf."

Hy was ook gelukkig om deel te wees van 'n groot vriendegroep van 12 leerlinge waarvan een van sy vriende ook disleksie het. Hulle het almal mekaar aanvaar en ondersteun.

Hy sê wel dat eksamens baie moeilik was as dit by leer gekom het.

"Soos byvoorbeeld met fisika moes ons definisies lees. As ek dan toets skryf, het ek die konteks verstaan, maar ruil woorde rond. Ek moet dan konstant oorlees om seker te maak dit is reg. Dan raak dit bietjie moeiliker," sê hy.

"Oor ek nie maklik kan lees nie, het ek agtergekom my brein slaan maklik dinge oor. As ek dit hoor, word dit vasgepen in my brein - my geheue het baie goed ontwikkel weens my disleksie," vertel hy.

Hy sê dit was moeiliker in die laerskool as in hoërskool.

"Daar is 'n groot verskil tussen die twee. In die laerskool het ek nie verstaan hoekom ek nie kon lees en spel nie en dit was baie frustrerend. Dit het nie saak gemaak hoe lank ek vir die speltoetse geleer het nie, ek kon dit net nie regkry in die toets nie.

"In die hoërskool het ek my disleksie beter verstaan en aanvaar en kon aanpas om dit te akkommodeer."

Dit was slegs in akademie waar die disleksie hom soms teruggehou het, want hy het ook graag deelgeneem aan sport soos atletiek en rugby.

Vanjaar wil Adriaan fokus op vakleerlingskap in veral 'n meganiese rigting en het reeds aansoek gedoen by 'n paar plekke. "Ek wil net met my hande werk," sê hy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM