Vir Cara Leah Govender (17) van die Hoërskool Jeugland in Kempton Park was haar liefde vir diere die dryfkrag vir haar akademiese prestasies. Die Duitse filosoof Immanuel Kant het immers gemeen jy hoef net te kyk hoe iemand diere behandel, en jy sal baie van hul karakter kan aflei.
Dit is Cara Leah se droom om veeartsenykunde te studeer en die keuring by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus is ongelooflik streng.Sy het regdeur haar skoolloopbaan hard gewerk en pluk nou die vrugte daarvan; sy het ses onderskeidings behaal.

"Ek gaan vanjaar veeartsenykunde aan die UP studeer. Dis 'n lewenslange droom wat nou gestalte kry," sê sy opgewonde.
Sedert gr. 10 was sy elke kwartaal onder die drie top- akademiese presteerders in haar graad. Sy is ook verlede jaar aangewys as beste leerling in Afrikaans eerste addisionele taal, asook geskiedenis.
"My hondjie, AJ, is my beste studiemaat. Hy sit altyd by my wanneer ek studeer en motiveer my met hope drukkies en aandag."
In haar vrye tyd werk sy as vrywilliger by die
Dierebeskermingsvereniging in Kempton Park. Sy het ook diereklinieke en veeartse bygestaan om nog ondervinding in die veld op te doen.
"As ek kon, sou ek elke dier se lewe wou red en sorg dat hulle almal goeie huise kry."
Haar matriekjaar was bittersoet; ten spyte van haar goeie resultate het sy haar ouma en oupa kort ná mekaar aan die dood afgestaan.
"Hul afsterwe het my verpletter, maar ek het my liefde vir hulle en herinneringe gebruik om my deur te dra en op my droom te fokus."
Haar familie het haar ook tydens die moeilike tyd gedra. "Hulle was altyd daar vir my en het heeltyd snoephappies en bederfies vir my aangedra terwyl ek studeer het. Dis veral my ma, Carmen, se deursettingsvermoë wat my geïnspireer het."
Carmen, 'n onderwyseres, het haar dogter geleer dat harde werk altyd beloon sal word.
"Sy is my rolmodel en sy lei deur self 'n voorbeeld te stel. Sy doen altyd moeite doen om ander te help," sê Cara Leah.



















