Die groen lig is Maandag deur Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, gegee vir die uitreiking van verlede jaar se matriekuitslae.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, maak die uitslae Donderdagaand by die Mosaïek-kerk in Randburg bekend.

Sy sal Donderdagoggend 'n ontbyt met die top-presteerders geniet terwyl die direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys Donderdagmiddag die media sal toespreek. Kandidate sal Vrydag hul uitslae ontvang.
Hoewel daar in verlede jaar se eindeksamen ernstige aantygings van kullery en onreëlmatighede was, het dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, Maandag in Pretoria aan die media gesê hulle is "tevrede dat alle standaarde" bereik is. Die gevalle waar daar wel kullery en onreëlmatighede was, was die uitsondering op die reël.
Die eindeksamen is deur altesame 1 222 652 kandidate afgelê - ingesluit die departement van basiese onderwys se kandidate (940 366), asook kandidate wat goedgekeurde onafhanklike eksamens afgelê het.
Volgens die departement van basiese onderwys is dit een van die grootste groepe wat tot nog toe die eindeksamen afgelê het.
"Die Covid-19-pandemie het ons in 2020 getref en dit het natuurlik 'n uitkringende uitwerking gehad," sê Rakometsi.

Volgens hom is die klas van 2022 die hardste getref deur die pandemie. Die departement van basiese onderwys het egter voldoende bystand aan die leerlinge gebied en Umalusi is tevrede dat dit gehelp het om die verlore klastyd en ander bystand in te haal.
Biki Lepota, woordvoerder van Umalusi, het hom Maandag sterk uitgespreek oor gerugte dat Umalusi die departement van basiese onderwys gevra het om die matriekuitslae later bekend te maak.
"Dit is onwaar en onverantwoordelike gerugte. Dis fopnuus en ons gaan soos beplan die uitslae Donderdag bekend maak," sê Lepota.
Prof. Yunus Ballim, voorsitter van die Umalusi-raad, sê hulle is tevrede dat hul riglyne en maatreëls tydens die matriekeindeksamen gevolg is.
Daar was wel uitsonderlike voorvalle waar individue of groepe gekul het.
"Dit sluit in plakkate en selfs inligting wat op selfone gedeel is. Daar word teen die kandidate opgetree en ondersoeke vind plaas," sê Ballim.
Hy sê hulle is bekommerd oor die getal kandidate wat gekul het tydens die eksamen en selfs die toesighouers wat in party gevalle gehelp het. Dié individue word aanspreeklik gehou.

Die nasionale seniorsertifikaateksamen is in 6 907 sentrums landwyd afgelê en die antwoordstelle is in 191 sentrums gemerk.
Die departement van basiese onderwys het 66 vakke aan Umalusi oorhandig vir ontleding om te bepaal of daar aan die standaarde voldoen is.
Ballim sê 47 vakke se aanvanklike punte is aanvaar terwyl 16 vakke s'n opwaarts aangepas is en drie se punte afwaarts aangepas is.
Die vakke waarvan die punte opwaarts aangepas is, is onder meer wiskunde, geskiedenis, inligtingstegnologie en visuele kuns.
Die vakke waarvan die punte afwaarts aangepas is, is ekonomie, aardrykskunde en Zulu-huistaal.
Ballim sê die omstrede vraag in wiskunde vraestel twee, waaroor wyd berig is, is ook ondersoek.
Hulle het bevind dat die fout in die laaste fase van gehalteversekering ingesluip het.
Umalusi sal in Maart verdere bevindinge bekend maak, soos gebiede wat hy geïdentifiseer het waar prosesse verbeter kan word.
Ballim het die klas van 2022 bemoedig deur te sê diegene wat dit nie gemaak het nie of nie so goed gevaar het soos hulle wou nie, nie moet opgee nie.



















