Met 'n plastiese chirurg as pa en 'n tandarts as ma het die mediese veld sommer al van kleins af vir Sheliza de Wet (18) gewink.
En met die nege onderskeidings waarmee sy aan die Hoërskool Menlo Park in Pretoria gematrikuleer het, is die deure vir haar oop om self eendag "Dr." voor haar naam te kan skryf.
Sheliza het egter nie die hele jaar agter die boeke deurgebring nie. As hoofmeisie moes sy mooi leer hoe om haar tyd te bestuur om by al haar verpligtinge uit te kom.
"Ek het vinnig besef ek moet delegeer en dat ek nie alles self moet probeer doen nie," sê sy.
Sy sê 'n hoogtepunt van haar matriekjaar was dat sy in die ATKV-redenaarskompetisie tweede gekom het in die Gauteng-uitdunne vir haar onvoorbereide toespraak, en dat sy nasionaal vierde geëindig het.
"Dit was ook vir my spesiaal dat my sussie in gr. 8 was verlede jaar, so ek was deel van hul inhuldiging. In sport het ek aan die 3 000 m deelgeneem tydens die interhoër, landloop gedoen en vir die tweede span hokkie gespeel."
Om te draf is ook juis hoe sy haar eksamenstres teëgewerk het.
"En ek is 'n beplanner, so ek hou van lysies en roosters opstel!" lag sy.
Sheliza gaan vanjaar BSc medies aan die Universiteit van Pretoria studeer en in die Asterhof-koshuis tuisgaan. Sy wil in haar pa se voetspore volg en as plastiese chirurg spesialiseer.
"Ek het eers gedink om in kardiologie in te gaan, maar dit beperk 'n mens net tot harte. Plastiese chirurgie bied iets van alles. Ek het al gaan kyk hoe my pa werk (hy spesialiseer in rekonstruktiewe chirurgie) en sy werk is vir my baie interessant. Interaksie met mense is ook vir my lekker, en dikwels is sy pasiënte wakker wanneer hy aan hulle werk! As plastiese chirurg sal ek ook hopelik my ure kan bestuur sodat ek balans kan hê tussen werk en 'n gesinslewe."
Sheliza is baie positief oor Suid-Afrika en voel haar generasie is nie bang vir uitdagings nie.
"Ons pak aan wat oor ons pad kom, eerder as om dit te probeer vermy. Ek dink ook ons generasie is baie kreatief en die idees waarmee ons vorendag kom, kan dalk help om probleme in ons land op te los. Ek sal graag in Suid-Afrika wil bly, maar sal nie omgee om oorsee te gaan spesialiseer en 'n bietjie te reis nie."




















