Die 18-jarige Miane Smit het destyds skaars hoër as 'n krieketkolf in haar skoene gestaan toe sy reeds op die geklap van leer teen wilg verlief geraak het. Dié Vrystaatse krieketspeler was maar nog 'n klein meisietjie toe boul en kolf sy al saam met haar pa, boeties en nefies in die tuin. Toe sy agterkom dat daar nie 'n krieketspan vir meisies by haar laerskool is nie, het sy haar nie laat keer nie.
"In gr. 1 het ek my pa oortuig dat ek by die seuns se krieketspan kan aansluit, en ek het deur my hele laerskool krieket gespeel - vir die seunspanne."
Sy is op 14 gekeur vir die Vrystaatse o.19-vrouespan en het in 2022 vir die Proteas se o.19-vrouespan begin speel.

Dié oudhoofmeisie van die Meisieskool Oranje was ook verlede jaar deel van die Proteas se o.19- en opkomende vrouespan. Sy het die Proteas by die T20-Wêreldbeker-toernooi vir o.19-vroue, wat verlede jaar vir die eerste keer gehou is, verteenwoordig.Dit was ook een van die hoogtepunte in haar matriekjaar. "Die o.19-vrouespan het vier uit die vyf wedstryde gewen. Dit was 'n wonderlike toernooi en 'n groot voorreg," het die veelsydige Vrystaatse krieketspeler gesê. Veelsydig is sy wel - sy blink nie alleen uit op die krieketveld met vernuftige kolfwerk en giftige draaiballe nie (sy is 'n wegbreekbouler), maar sy het ook ses onderskeidings in die matriekeksamen behaal.
"Krieket verg nie net fisieke vernuf nie en is een van die moeilikste en uitdagendste sportsoorte. Daarom hou ek daarvan.
"Jy speel 'n groot deel daarvan in jou kop - dit beproef jou taktiese vermoëns tot die uiterste toe. Elke bal het eindelose moontlikhede en uitkomste, elke nuwe bal verg 'n ander strategie."
Sy gaan vanjaar aanhou krieket speel en het 'n kontrak met die Vrystaatse vrouespan geteken.
"Ons speel tans in afdeling 1, waar vrouekrieket al op professionele vlak is."
Sy gaan ook vanjaar met BCom (rekeningkunde) aan Kovsies begin en sal in die Amelia-koshuis tuisgaan.
"Vrouekrieket maak beslis opgang in Suid-Afrika en die buiteland, en al hoe meer mense stel daarin belang. Professionele vrouekrieketspelers verdien goeie geld - daar is sonder twyfel 'n toekoms daarin." Sy raai skoolmeisies wat in die sport belang stel aan om krieketproewe by te woon en die sport op die proef te stel.
Haar krieketheldin is Laura Wolvaardt, die Protea-vrouespan se aanvangskolwer en kaptein en een van die wêreld se beste vroue T20-krieketspelers.
"Sy is 'n hardwerkende speler en het 'n groot impak op vrouekrieket in Suid-Afrika gehad."



















