Matrieks

Moenie te veel druk op jouself plaas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die akademiese jaar is reeds goed op dreef en topmatrikulante kan hulle nou vir die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad se 42ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie inskryf.

Twee van verlede jaar se finaliste, die mediese studente Jordan Goodman en Didi Nel, is dit eens dat die blootstelling aan die ander finaliste tydens die eindronde in Bloemfontein uiters waardevol was. Hegte vriendskappe is tydens die geleentheid gesluit.

Didi, verlede jaar onderhoofmeisie van die C & N Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, is oortuig dat 'n mens nie mediese studie alleen kan aanpak nie. "Jy het vriende en jou ouers nodig."

Vir Jordan, wat eindelik in kardiologie wil spesialiseer, is die werk baie, maar hy geniet sy studie net soveel.

Albei het iets nuuts oor hulself geleer en het nuwe maniere gekry om onder meer spanning te hanteer.

Didi, wat moontlik in ginekologie wil spesialiseer, vertel sy het tydens 'n kliniekbesoek agtergekom dat sy baie empatie met mense het.

"Ek het ook geleer ek moenie te veel druk op myself plaas nie - my beste is goed genoeg. Moet ook nie glo iets is moeilik net omdat ander mense so sê nie!"

Jordan, verlede jaar hoofseun van die Hoërskool Bloemfontein, het dieselfde ervaar. "Ek het kalmer geword en gesonde maniere gekry om stres te hanteer - soos meditasie en oefening. Hoewel ek besef ek moenie te hard met myself wees nie, het ek tog doelwitte wat ek wil bereik."

Skryf nou in

Veelsydige matrikulante wat akademies presteer, betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole, en wat beoog om in 2024 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.

Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet op die vorm aangebring word.

Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, gesken­ke ter waarde van R10 000, en gaan na die eindronde-geleentheid in Bloemfontein.

Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik. Vir inskryfvorms, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM