Onthou die naam Khumo Magoro (18), want haar stem gaan ons beslis nog baie in Suid-Afrika hoor. Khumo het verlede jaar met universiteitsvrystelling aan die Pretoria High School for Girls gematrikuleer waar sy haar passie vir musiek en syfers uitgeleef het.
"Ek is nog altyd aan die sing, maar het in gr. 8 begin met sanglesse. My broer is ook baie lief om musiek te maak en het in sy kamer aan sy eie komposisies gewerk. Ek het ná skool by hom gaan sit en saam met hom begin musiek maak - wanneer hy my toegelaat het!"

Khumo vertel sy skryf ook graag haar eie musiek, maar het nog nie genoeg selfvertroue om al haar skeppings met die wyer wêreld te deel nie. "Home", 'n liedjie wat sy drie jaar gelede opgeneem het, is wel op SoundCloud.
"Ek het dit self geskryf en my broer het dit opgeneem en verwerk. Ek kry my inspirasie vir lirieke deur na die ritme van die musiek te luister. As dit byvoorbeeld 'n hartseer klavierklank is, skryf ek hartseer lirieke, maar as dit iets opgewek is, skryf ek lirieke met 'n gelukkige boodskap."
Haar rolmodel is die Britse sangeres Jorja Smith, maar as sy met enige musikant kon saamwerk, sal dit die Kanadese rapper en sanger Drake wees.
"Ek was deel van die Universiteit van Pretoria se jeugkoor en dit was vir my 'n wonderlike ervaring. Ek het ook erekleure gekry vir kultuur as gevolg van my sang, en het goud gewen in verskeie ATKV-sangkompetisies. Ek sal baie graag musiek my loopbaan wil maak, maar dit is vir my belangrik om akademies sterk te wees as 'n vangnet waarop ek kan steun."
Haar grootste uitdaging verlede jaar was om akademies kop bo water te hou.
"Dit was altyd vir my maklik om goeie punte te kry, maar in gr. 11 het dinge begin verander. Dit was vir my 'n baie moeilike jaar, en ek het matriek begin met die doelwit om op my gr. 11-punte te verbeter. Dit was die eerste keer dat ek sleg gedoen het in wiskunde, en ek moes baie hard werk om my punte te kry waar ek dit wou hê."
Khumo gaan vanjaar BSc (datawetenskappe) studeer.
"Rekeningkunde was verlede jaar my gunstelingvak. Ons het 'n wonderlike onderwyser gehad wat die werk sommer pret gemaak het. Ek hou daarvan om met syfers te werk en om my vaardighede in wiskunde en rekeningkunde te verbeter."




















