Matrieks

Niks kry dapper seun onder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hy het sy laaste twee eindeksamenvraestelle in die hospitaal op suurstof afgelê "nadat sy linkerlong plat­geval het".

Kort ná sy laaste eksamen het Azariah Gordon (18) van Jamestown, Stellenbosch, wat sistiese fibrose het, sieker geraak. Hy gaan binnekort 'n dubbele longoorplanting ondergaan, sê sy ma, Carmen.

Azariah Gordon  Foto's: Verskaf
Azariah Gordon Foto's: Verskaf

Sistiese fibrose is op die ouderdom van ses weke by Aza­riah gediagnoseer toe dokters sien hy tel nie gewig op nie nadat hy op ses weke geweeg is.

Hy is in Desember vir die derde keer in die hospitaal opgeneem.

Die hospitaalbesoeke het die jongste van twee egter nie gekeer om sy matriekjaar te voltooi nie. Nadat hy op 2 Desember sy tweede eindeksamenvraestel, Afrikaans Huistaal se derde vraestel, in die Mediclinic Stellenbosch afgelê het, het Azariah egter sieker geraak.

Azariah, wat 'n matrikulant aan die Hoërskool Stellenbosch was, sê sy linkerlong was erg beskadig, so sy regterlong moes al die werk doen.

"Later toe raak my regterlong ook erg beskadig en kon dit nie meer al die druk hanteer nie. Dit het daartoe gelei dat my longe platval," sê hy.

Daar bestaan geen kuur vir sistiese fibrose nie en die siektetoestand tas veral die longe en spysverteringstelsel aan.

Carmen sê by die huis het Azariah hordes medikasie wat hy gebruik. Hy staan gewoonlik elke oggend om 05:30 op, stort en doen sy fisioterapie-oefeninge. Hy gebruik dan 'n nebuliseerder. Saans voor hy gaan slaap, gebruik hy weer die nebuliseerder om die slym los te maak.

Carmen werk in 'n dokter se spreekkamer. Sy het Azariah soggens by die skool gaan aflaai en smiddae weer gaan oplaai.

Azariah Gordon moes van sy eindeksamenvraestelle in die hospitaal skryf en wag tans op 'n longoorplanting weens sy sistiese fibrose. Op die foto is hy saam met sy broer, Cantona, en sy ouers, Anton en Carmen.
Azariah Gordon moes van sy eindeksamenvraestelle in die hospitaal skryf en wag tans op 'n longoorplanting weens sy sistiese fibrose. Op die foto is hy saam met sy broer, Cantona, en sy ouers, Anton en Carmen. (SYSTEM)

"Ek het maar my lewe so aangepas rondom syne," sê sy.

Azariah is op 3 Desember verlede jaar na die Universiteit van Kaapstad (UK) se private akademiese hospitaal oorgeplaas nadat hy sieker geraak het.

Hy is op 22 Desember ontslaan, maar is op 2 Januarie weer terug nadat hy by die huis siek geraak het.

"Sy longe is baie swak en sy gewig is baie agter," sê Carmen. "Hy het by die huis kortasem geraak en hy het aanhoudend gehoes. Ons was bang. Ons moes hom weer inneem."

Hoewel sy probeer sterk bly, breek dit haar mamma-hart om haar seun in soveel pyn te sien.

"Ek het nou die dag vir my oudste seun, Cantona, gesê ek het nog nooit so baie in my lewe gehuil nie. Maar die Here sien my trane. Ek hou vas aan die Bybel. As ek soggens opstaan, bid ek eerste en vra vir die Here krag vir die dag."

Azariah het onlangs ook 'n voedingsbuis gekry en is af en toe in geweldige pyn.

"Daar gaan nie 'n dag verby wat ons hom nie in die hospitaal gaan besoek nie. Ons bly positief, maar ek sal lieg as ek sê alles is maanskyn en rose. Hierdie pad wat ons nou op is, is 'n seer wat ek geen ouer toewens nie.

"Die lewe met 'n kind wat sistiese fibrose het, is 'n dag-vir- dag lewe. Want vandag skrik hy wakker en voel hy oukei, en môre skrik hy wakker en dit is 'n ander storie. Ons beplan niks. Ons skrik wakker en vat die dag soos dit kom.

"Ons kla ook nie, want hy is ons kind."

Carmen sê Azariah se longoorplanting sal gebeur sodra hy sterk genoeg is. Tans is sy lyf te broos en swak om so 'n groot operasie te trotseer.

"Hy is net te maer," sê 'n hartseer Carmen. "Die dokters probeer hom opbou sodat hy krag kan kry."

Só stap hulle die moeilike pad

Azariah sê sy eksamens het goed afgeloop. Behalwe vir Afrikaans, het hy ook Engels Eerste Addisionele Taal se derde vraestel in die hospitaal afgelê.

Terwyl Azariah sy eksamens in die hospitaal afgelê het, het 'n verteenwoordiger van die Wes-Kaapse onderwysdepartement hom gemonitor terwyl hy by 'n tafel in die hospitaal geskryf het.

"Ek doen alles met behulp van die Here. Al die lofprysing en eer kom Hom toe. My ouers en my broer dra my ook deur, asook die mense wat vir my bid."

Azariah sê daar was baie kere wat hy gefrustreerd was oor die toestand wat hy het. Dit weerhou hom dikwels daarvan om die lewe ten volle te kan geniet.

"Partykeer is ek te siek om met my vriende tyd te spandeer. As ek wel met hulle uithang, word ek vinnig moeg as ek te veel stap of moet hardloop. Ek voel asof my vermoëns baie beperk word deur die sistiese fibrose," sê Azariah.

Hy mis dit om soos 'n normale tiener deur die lewe te kan baljaar. Hy aanvaar egter dat almal op hul eie paadjie op aarde loop.

"Ons is almal uniek. Ek het al aanvaar dat almal in die lewe hul eie uitdagings moet deurmaak."

Anton Gordon (55), Azariah se pa wat die skoolhoof van die Laerskool Idasvallei is, sê hulle is al deur baie uitdagings met Azariah.

Hy is die eerste keer in die hospitaal opgeneem toe hy 12 jaar oud was. Daarna is hy in gr. 10 ook weer opgeneem en nou weer op 27 November.

Azariah word gewoonlik opgeneem omdat die slym in sy liggaam opbou.

Anton en Carmen het oor die jare altyd aan Azariah se onderwysers verduidelik wat sy toestand is.

By die Laerskool Idasvallei het hulle 'n boekie gehad wat vertel wat sistiese fibrose is en dit elke jaar aan die volgende onderwyser oorhandig.

In sy hoërskooljare het hulle gaan vertel wat aangaan.

"Daar het nog niks ernstigs in die skole gebeur waar ons hom moes gaan haal nie," sê Anton.

Azariah is voorlopig by die Universiteit Stellenbosch (US) vir BA-studie in geesteswetenskappe en omgewingstudies aanvaar.

"My droom is om graag verder te gaan swot," sê hy. "Op die oomblik is ek gewillig om 'n jaar later met my studies te begin sodat ek hierdie jaar op my gesondheid kan fokus."

Azariah is tans steeds in die UK se private akademiese hospitaal waar hy gister uitgevind het dat hy matriek met universiteitsvrystelling en een vak-A geslaag het. Sy pa het sy resultate by die skool gaan afhaal.

"Ek vat dinge maar dag vir dag. Ek verstaan dit gaan 'n proses wees en dat ek geduld moet hê. Al die ondersteuning dra my deur."

Cantona (22) het verlede jaar met sy graad in onderwys aan Maties gegradueer. Hy het vanjaar as gr. 5-onderwyser by die Laerskool Idasvallei begin werk.

Carmen hoop net goeie goed vir haar kind se toekoms.

"Ek hoop hy kry geskikte longe wat hom 'n tweede kans gaan gee om 'n jong mens te kan wees.

"Ek glo en vertrou die Here het hom nie so ver gebring om hom nie verder te vat nie," se Carmen.

Aan ander kinders wat in dieselfde situasie as hy is, wil Azariah net sê: "Moenie opgee nie. Bid."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM