Op 32 weke het Bernard Badenhorst (19) die lewe veg-veg ingekom met 'n 50% kans dat hy en sy ma nie sy geboorte sou oorleef nie.
Vyftien jaar later het hy binne 'n jaar sy twee rolmodelle aan die dood afgestaan, maar met wilskrag het hy homself opgetel en deurgedruk om skool klaar te maak.

"My lewe was al baie op en af. Ongelukkig was om geboelie te word deel daarvan. Maar die angs ná my oupa en pa se dood was die ergste."
Hierdie saggeaarde jong man vertel sy storie met 'n sagte stem.
"Op 20 Augustus 2019 is my oupa ná 'n aaklige siekbed weens te veel vet om sy lewer oorlede. Hy het lewerversaking gehad. Minder as 'n jaar later op 3 Augustus 2020 is my pa aan Covid-19 oorlede. Dit het my baie erg getref."
Benewens die emosionele trauma, is die familie se hele lewe ook omver gegooi.
Hulle moes trek uit sy grootwordhuis op die vakansieoord waar sy pa gewerk het, van hul meubels verkoop omdat daar nie plek daarvoor was in die nuwe, kleiner huis nie, en moes 'n kleiner motor kry.
"Ons moes ons sente baie omdraai om net met my ma se salaris te oorleef," sê hy.
Bo en behalwe die lewensverandering, het die verliese ook sy punte begin affekteer en Bernard sê dat hy baie hard moes werk om weer sy normale skoolpunte te behaal.
"Ergste was die angs wat my beetgepak het en die reaksie van my tienerliggaam op hierdie trauma. Dit wou-wou gaan vassit in my emosionele brein en my akademie lelik beïnvloed, maar ek het besluit ek wil, ek sal en ek kan dit oorkom met God, professionele hulp, deursettingsvermoë en die wil om uit my seer 'n verskil in ander se lewens te kan maak."
Hy sê dat die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), waar hy matriek met universiteitsvrystelling geslaag het, daartoe bygedra het dat hy deurgedruk het.
"My matriekjaar was nie altyd maklik nie, want my pa was ook 'n "Old Boy" van die skool. Daar was baie geleenthede wat ons saam sou doen. Hy was 'n ongelooflike man wat my baie gehelp het en ek het sy hulp en ondersteuning in my laaste jaar gemis. My uitstap-dag, laaste prysuitdeling en laaste vraestel was baie moeilik sonder hom. Maar gelukkig was my ma daar om my by te staan."

Iets waarna hy en sy pa baie uitgesien het, was sy uitstap-dag waarop die matrieks na die skool se museum gaan waar hulle hul "Old Boy"-dasse tydens 'n das-seremonie ontvang.
"My ma, sonder om my te vertel, het gereël dat sy namens my pa my das vir my borg. Agterop my das staan ‘Geborg deur: Iaan Badenhorst '89'. Dit was baie spesiaal," deel hy oor die ervaring.
Ná sy pa se dood moes Bernard iets kry om hom mee besig te hou en noodhulp was die antwoord. Hy het dieselfde jaar, toe hy in gr. 10 was, sy vlak 3-eksamen in noodhulp met 98% geslaag.
"Ek het myself ingegooi in noodhulp en sedertdien is ek die hoof van die noodhulpspan."
Sy ma, wat by 'n geestesgesondheidskliniek werk, het ook vir hom tegnieke geleer oor hoe om sy angs en stres te beheer.
"Ek moes ook na 'n sielkundige gaan om oor my eksamenstres te kom, maar my skool, familie en kerk het baie gehelp."
As die enigste kind was Bernard ook ná sy pa se dood die man in die huis. Hy vertel dat sy pa die Vrydag vir hom uit die hospitaal 'n SMS gestuur en gesê het hy moet mooi na sy ma en ouma kyk. Die Maandag is sy pa oorlede.
"Ek het baie verantwoordelikhede nou en daarom gaan ek vanjaar na-ure by Akademia in die Paarl my BCom-graad studeer en ek gaan deur die dag by 'n rekenmeestersfirma werk.
"Ek wil dalk ook in onderwys ingaan, want ek het 'n passie vir die jeug. Ek wil my storie deel met ander kinders om hulle met hul seer te help en vir ander leer om empatie te hê met ander mense."
Ná alles het hy steeds 'n positiewe uitkyk op die lewe.
Hy deel sy raad met ander jong mense wat ook deur baie moeilike tye gaan: "Moenie dat die lewe jou onderkry nie. Soek mense wat jou ondersteun en hou jou kop na God."



















