Hoewel sy op 'n jong ouderdom moes leer om openbare vervoer te gebruik om by die skool uit te kom, was sy meer as bereid om vroeg op te staan om onderrig te ontvang.
Lillian Sandi (18), 'n leerling aan die Proteahoogte Akademie in Brackenfell, sê dit was wel aan die begin 'n bietjie uitdagend, maar sy het gewoond geraak aan die reis na en van die skool af. Sy moes elke dag 'n bus van Mfuleni, Kaapstad, vat na Bellville, en van Bellville na die Laerskool Eversdal in Durbanville. En toe sy met hoërskool begin moes sy dieselfde roetine volg, maar toe was die eindbestemming die Proteahoogte Akademie in Brackenfell.

"Daar was net een bus wat soggens 05:30 uit Mfuleni vertrek het. Ek moes dus baie vroeg opstaan en al die pad na die taxi-staanplek gaan. En wanneer ek in Bellville aangekom het, moes ek lank wag vir die taxi om eers vol te raak voor hulle kon ry en dan kom ek eers 07:30 by die skool aan. Maar ek het altyd gesorg dat ek hier is en vinnig 'n plan gemaak as daar 'n taxi-staking of ander struikelblok was.
"Ek het ook wonderlike vriende by Eversdal gehad wat altyd vir my gesê het ek is meer as welkom om oor te slaap, soos my vriendin sedert gr. 8, Yolokazi Vuba."
Lillian sê verder dit was soms baie uitputtend om elke dag van openbare vervoer gebruik te maak, aangesien sy nie altyd alles kon inpas wat sy moes doen vir daardie dag nie.
"Ek sou op die laatste 18:30 by die huis kom en dan moes ek nog skoolwerk doen. As ek dit nie daardie aand kon doen nie, moes ek tyd kry om dit die volgende oggend te doen. Maar dit het my geleer hoe om my tyd goed te bestuur," voeg sy by.
Lillian is veral dankbaar vir haar vriendin Yolokazi omdat sy en haar ouers vir haar 'n herberg gebied het in die eerste paar maande van die Covid-19-pandemie.
"Ek kan haar en haar gesin nie genoeg bedank nie. Sy is soos 'n suster vir my. As dit nie vir hulle was nie, het ek nie vandag hier gesit nie. Hulle het toegelaat ek vir maande by hulle bly in die Covid-19-pandemie en het altyd seker gemaak dat ek vervoer het indien daar 'n geleentheid by die skool was."
Volgens Lilian het die hele ervaring deur haar skoolloopbaan van haar 'n sterker, onafhankliker persoon gemaak en dat sy nou op haar voete kan dink indien sy in 'n moeilik situasie is.
Lilian is die eerste een in haar familie om haar matriek te voltooi en universiteit toe te gaan.
Sy het met universiteitsvrystelling geslaag. Sy sê sy is nog nie seker presies waar sy gaan studeer nie, maar sy weet sy wil onderwys studeer.
"Ek wou nog altyd 'n onderwyseres word. Eintlik van 'n baie jong ouderdom af. Die rede waarom ek 'n onderwyser wil wees, is omdat ek so bevoorreg was om skool toe te gaan en dat my ma geen skoolgeld hoef te betaal het nie.
"Ek het die beste onderrig van die beste onderwysers ontvang en dink dit sal 'n goeie manier wees om terug te gee aan my gemeenskap. Ek hou daarvan om terug te gee en buiten dit is ek lief vir kinders," sê sy.
Volgens Lillian het sy reeds vroeg in die jaar begin teruggee aan haar gemeenskap in Mfuleni deur as vrywilliger werksaam te wees by 'n gemeenskapsorganisasie genaamd Wide Awake Movement waar hulle loopbaanvoorligting aan gr. 9-leerlinge in die gebied bied sodat hulle die regte vakkeuses kan maak.
"Ek is ook 'n tutor en help leerlinge indien hulle met enigiets sukkel. Dit is so lekker om deel te wees van hierdie organisasie, want dit help leerlinge om buite die boks te dink wat loopbane betref.
"Hulle kan sien daar is ander beroepe ook as die gewone soos dokter, verpleegster en so meer. Ek sal baie graag betrokke wil bly terwyl ek studeer," sê sy.




















