Matrieks

Pedro slaan uitdagings met ’n kishou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
15 maande ná sy hartoorplanting het Pedro Basson op ’n podium in Perth gestaan met ’n goue medalje om sy nek. Hy het die goue medalje in die ouderdomsgroep van 18 - 30 in die mansenkelspeltennis by verlede jaar se Wêreldoorplantingspele in Australië
15 maande ná sy hartoorplanting het Pedro Basson op ’n podium in Perth gestaan met ’n goue medalje om sy nek. Hy het die goue medalje in die ouderdomsgroep van 18 - 30 in die mansenkelspeltennis by verlede jaar se Wêreldoorplantingspele in Australië

Pedro Basson se terugkeer na tennis verlede jaar kan moontlik Rafael Nadal se "Miracle in Melbourne" oortref. Die Spaanse tenniskampioen het in 2022, ná 'n seisoen van beserings en terugslae, die Australiese Ope in vyf stelle gewen.

Maar selfs die Koning van Klei se prestasies is klein in vergelyking met wat Pedro kon vermag.

Slegs 15 maande ná sy hartoorplanting het Pedro op 'n podium in Perth gestaan, 'n goue medalje om sy nek en amptelik 'n wêreldkampioen. Hy het die goue medalje in die ouderdomsgroep van 18 tot 30 in die mansenkelspeltennis by verlede jaar se Wêreldoorplantingspele in Australië verower, asook silwer in die dubbelspel.

Sy tennisafrigter, Ntando Lungwazi, is allermins verbaas.

"Die fokus en harde werk wat Pedro voor die Spele ingesit het, was ongelooflik - as hy eers 'n doelwit voor oë het, is hy onstuitbaar. Maar dis Pedro, nog voor sy hartoorplanting."

Die oudleerling van Helpmekaar Kollege voel sy sege by die Oorplantingspele was 'n "sielkundige oorwinning." Sy lewensuitkyk het hom ook gehelp om vier onderskeidings in die IEB-eksamen te kry, ondanks 'n moeilike akademiese jaar. Hy beplan om vanjaar BSc in rekenaarwetenskap by die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Pedro se lewe het in 2021 onherroeplik verander toe hy terselfdertyd Covid-19, 'n coxsackievirus (familie van die polio- en hepatitis A-virus wat die hartspier beskadig) en 'n stafilokokkus- bakteriële infeksie opgedoen het. 'n Ultraklankskandering het inflasie en verswakking van sy hartspiere getoon en hy is dadelik na die Netcare Milpark-hospitaal se topharteenheid, onder leiding van die kardioloog dr. Graham Cassel, verwys. Cassel en sy span het hom aanvanklik met medikasie probeer behandel, maar Pedro se hart het aanhou verswak. Sy enigste kans op oorlewing was 'n hartoorplanting.Ten spyte daarvan dat hy uitstekende vordering getoon het tydens sy herstel, het hy ook klippe gekou. Pedro het tydens sy gr. 11-jaar 'n skooltermyn misgeloop terwyl hy by die huis herstel het. Toe hy verlede jaar terugkeer skool toe, moes hy agterstallige gr. 11-werk inhaal en boonop terselfdertyd sy matriekvakke baasraak.

"Dit het gevoel asof ek die heeltyd twee treë agter was en het net probeer byhou. Boonop was my konsentrasievlakke dié van 'n klip," onthou Pedro.

"Aanvanklik het dit my ondergekry, maar as 'n hartoorplanting my een ding geleer het, is dit om aan te hou veg en nooit op te gee nie. My onderwysers, vriende en familie het ongelooflike ondersteuning gebied - en ek kon herstel. Uiteindelik kon ek die matriekeindeksamen voltooi."

Sedertdien leef hy elke dag met oorgawe en dankbaarheid. Hy was ook aanvanklik bang dat hy nie meer aan sport, een van sy grootste liefdes, kan deelneem nie, maar dit het uiteindelik met sy fisieke sowel as geestelike herstel gehelp.

"Oefening laat my ontspan en verskerp my fokus. Tydens die eksamen was ek die heeltyd op die tennisbaan, of ek het fietsgery, geswem en gegim." In die finale spel by die Spele het Pedro sy knie beseer, maar hy het geweier om te onttrek.

"Hy het ongelooflike pyn ervaar, maar hy het deurgedruk," sê sy pa, Paul Basson.

Dit was 'n riller van 'n wedstryd en het uiteindelik op 'n valbylpot uitgeloop.

Sy deursettingsvermoë is gesetel in 'n diep respek vir sy medemens en 'n nederige gesindheid.

"Paul en René (sy ma) kan ongelooflik trots wees op hul seun," sê Lungwazi.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM