Toe haar pa in Oktober 2022 in 'n motorongeluk dood is, is Martiné Rensburg se gr. 11-jaar byna omvergegooi.
"My pa is net voor my eindeksamen vir gr. 11 oorlede. Dit was verskriklik erg. En die begin van my matriekjaar verlede jaar was net so erg, want my pa se verjaarsdag is in Februarie.
"Ek is die oudste en het twee sussies en 'n boetie. Dit was vir ons almal 'n vreeslike aanpassing."
Martiné het ondanks dié uitdagings verlede jaar matriek aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg geskryf en met universiteitsvrystelling geslaag. Sy was ook die kaptein van die eerste hokkiespan en het tydens die skool se prysuitdeling verlede jaar die Sanet du Toit-trofee vir Persoonlikheidsontwikkeling gewen.
"Ek kom van 'n plaas buite Delmas en was van gr. 8 af in die koshuis. Dit was vir my heerlik. Dis 'n klein koshuis met net meer as 100 kinders. Die skool het 'n goeie busstelsel en dit is eintlik net die kinders wat regtig ver bly, wat in die koshuis is."
Haar gunstelingvak was toerisme.
"Die onderwyser was fantasties en ek het dit baie geniet om te leer oor hoe die gasvryheidsbedryf werk."
Martiné vertel hulle het einde verlede jaar die plaas verkoop en weggetrek.
"Dit was my oupa se plaas en ons het almal saam daar gebly en met beeste geboer. Ons het einde verlede jaar alles verkoop en George toe getrek. My ma het werk gekry in administrasie. My twee oudste sibbe gaan vanjaar na die Hoërskool Outeniqua, en my jongste sus gaan na die Laerskool George-Suid."
Martiné gaan aanlyn deur Aros grondslagfase-onderwys studeer. "Ek is nog altyd lief daarvoor om met klein kindertjies te werk. Ek was in gr. 2 toe my jongste sussie gebore is en ek het dit baie geniet om dinge vir haar te doen. Ek is bly ek kan van die huis af studeer en hoef nie in te gaan na 'n kampus nie."
Martiné sê haar pa sal altyd haar rolmodel bly.
"Hy het baie hard gewerk om vir ons te sorg en hy het my alles geleer - van motor bestuur tot perdry. Hy was 'n ongelooflike goeie man vir wie ek altyd lief sal wees."




















