Vyf jaar gelede, tydens die Alberton High School se opedag vir voornemende gr. 8's, is 'n jong Brady Bernard (18) meegevoer toe hy vertel is van die skool se welsynsprojekte.
"Een van die verteenwoordigende leerlingraad se welsynsprefekte het ons vertel van 'n projek waar Interwaste, 'n herwinningsmaatskappy, 'n nuwe rolstoel skenk aan 'n behoeftige mens of liefdadigheidsorganisasie, vir elke 450 kg bottelproppies wat 'n skool of instansie insamel," vertel hy.
'n Saadjie is geplant, en toe Brady die volgende jaar by dié hoërskool inskryf, was hy ook vasbeslote om 'n verskil in minderbevoorregte mense se lewens te maak.
Dit was ook die begin van Brady se verhouding met Johannesburg se rommelherwinnaars. Hy was vuur en vlam, en het orals bottelproppies versamel en opgetel, maar 'n paar maande later het sy buit nie eers 'n kilogram geweeg nie. Kort daarna het hy die herwinnaars se trollies vol bottelproppies opgemerk, en 'n idee het posgevat.
Hy het die mans genader en 'n ooreenkoms met hulle aangegaan: Hulle sou namens Brady proppies versamel, en in ruil daarvoor sal hy hulle voorsien van kos, klere en skooluniforms vir hul kinders. Hy kon dit doen te danke aan borgskappe van plaaslike ondernemings, bure, vriende en familie.
In 2022 het die groep altesaam 850 kg botteldoppies ingesamel, wat sowat 22 groot munisipale asblikke gevul het. Saam met die 50 kg doppies wat die skool ingesamel het, was dit genoeg vir twee rolstoele. Maar hy meen ook die projek het 'n blywende invloed op sy woonbuurt en gemeenskap gehad.
"Ons het mense in nood bygestaan en die gemeenskap het ook betrokke geraak. Op Vrydae het die Engen-vulstasie in Verwoerdpark, op die hoek van Braunweg en Drysdalelaan, ook kos aan die herwinnaars voorsien. Ons het almal mekaar gehelp," verduidelik Brady.
Hy is aangewys as 'n welsynsprefek, een van sy doelwitte toe hy as 'n blinkoog-gr. 8-leerling by die skool ingestap het.
" 'n Mens moet altyd bereid wees om jouself in iemand anders se skoene te plaas en meer begrip vir hul lewens te hê. Wanneer ek terugkyk na my hoërskoolloopbaan het die herwinnaars my so baie geleer. Hulle trotseer lang werksure en uitputting, ek kon nie anders as om hul werksetiek te bewonder nie.
"Ná ek tyd saam met die groep mans deurgebring het, het ek net respek vir hulle."
Hy laat ook die proppie-projek as erfenis na, en hoop toekomstige leerlinge sal nog tonne daarvan insamel, en aanhou om mense se lewens proppie vir proppie te verander.
Brady weet nog nie wat hy vanjaar wil studeer nie, maar oorweeg argitektuur of stadsbeplanning. Hy het matriek met universiteitstoelating geslaag.





















