Voor sy 18de verjaardag was Zandré Smith al 22 keer onder die mes. In gr. 7 het hy langer as drie maande in die hospitaal deurgebring en was hy maande lank in 'n rolstoel vasgekluister.
Hy leef daagliks met chroniese pyn en inflammasie, ly aan artritis en sy gewrigte bloei konstant, maar hy mag nie pynmedikasie daarvoor neem nie.
Zandré ly aan 'n besonders rare en aggressiewe vorm van hemofilie A. Mense met die toestand beskik nie oor die faktor VIII-bloedstollingsproteïen nie, wat 'n noodsaaklike rol in die stollingsproses van bloed speel.
"Gesonde mense se bloed het 12 verskillende faktore wat die proses reguleer en soos 'n legkaart inmekaar pas. Die afwesigheid van faktor VIII by my beteken dat sommige bloedstollingsproteïene nie met mekaar kan bind om my bloed te laat stol nie," verduidelik hy.
Sedert laerskool leef hy saam met die stigma van 'n "bloedsiekte".
"Daar is talle mites en wanopvattings oor hemofilie. Mense misgis dit soms met MIV/vigs. As kind was vriende maar skaars, kinders is bang om met jou te speel. Ek is gereeld gevra of my toestand aansteeklik is.
"Mense dink ook my bloed is dun en dat lyers nie ophou bloei wanneer ons 'n uitwendige besering opdoen nie. My bloed se vloeibaarheid is ‘normaal', ek het net nie faktor VIII-proteïene nie."
Net 'n klein stampie of selfs om vir lang tye aaneen te tik kan tot bloeding lei, ook inwendige bloeding.
"Ek kan nie gewoonweg beweeg of my gewrigte ooreis nie, want dan begin dit te bloei."
Hy kry elke tweede dag binneaarse inspuitings met faktor VIII-aanvullings om bloeding te keer. Boonop moet hy daagliks saam met die pyn saamleef. Die meeste pynmedikasie is teenaangedui vir hemofilie omdat dit die bloedplaatjies beïnvloed en bloeding bevorder.
Hy sê verlede jaar was sy mooiste, maar ook moeilikste jaar. Aan die begin van sy hoërskoolloopbaan het hy artritis in sy skouer ontwikkel van al die skryfwerk. In gr. 10 het Helpmekaar Kollege 'n spesiale toegewing gemaak dat hy sy skoolwerk mag tik.
Met die rekordeksamen het sy vingers begin bloei van al die tikwerk en die pyn was onophoudelik. Hy moes noodgedwonge die dienste van 'n skryfassistent gebruik.
"Die skool wou al in gr. 11 vir my 'n assistent aanstel, maar ek wou nie die klein bietjie beheer wat ek oor my liggaam het, opoffer nie."
Maar sonder die assistent se bystand sou hy matriek moes herhaal. Hy meen die assistent het beslis gehelp, maar dat dit ook stresvol was om sy toekoms en drome in iemand anders se hande te plaas.
"Boonop moet jy hardop dink en jouself reg uitdruk, dis moeiliker as wat jy self skryf en die antwoorde in jou kop formuleer."
Hy het matriek met agt onderskeidings geslaag en verlede jaar Helpmekaar Kollege se eerbewys as die matriek met die meeste deursettingsvermoë ontvang.
"Ten spyte van 22 operasies, eindelose uitdagings, pyn en bloed het ek net my bes gedoen met elke taak wat ek aangepak het. Die eerbewys het my laat besef ander mense sien dit ook raak."
Hy beplan om vanjaar BSc Biomediese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch te studeer en oorweeg dit om in 2025 na medies oor te skakel.
"Vanjaar wil ek egter net spontaan wees en nie onnodige druk op myself plaas nie," sê hy.




















