Sy wil stories met haar kuns vertel, en veral die lig laat skyn op die rol van vroue in die samelewing, sê Rouxlé Nel (18).
Sy het verlede jaar aan die Hoërskool Menlo Park in Pretoria met vier onderskeidings gematrikuleer.
Haar grootste prestasie van haar matriekjaar was egter om die Brooklyn Kinderkunstefees-kompetisie te wen met haar werk getiteld Blossom. Dit is 'n skildery van 'n vrou met 'n bos pienk en wit blomme in akrielverf op hout.
"Ek het nog altyd kuns beoefen, maar vanaf gr. 10 intensiewer daaraan begin werk. Ek is verlede jaar gemotiveer deur my kunsonderwysers, geslagskwessies en veral feminisme. My matriekjaar was vir my 'n kultuurjaar, en ek was ook baie opgewonde toe ek van my kunswerke verkoop het."
Oor die rede hoekom sy akrielverf bo olieverf verkies, het sy 'n snaakse verduideliking: "Ons het iewers in 'n kunsklas die geskiedenis van olieverf behandel en hoe dit destyds lood bevat het. Ons het ook geleer dat dit gevaarlik is om te veel terpentyn in te asem. Sedertdien het ek 'n vrees vir olieverf ontwikkel, veral omdat ek die nare gewoonte het om my verfkwas in my mond of my halfgedrinkte koppie tee te druk!" lag sy.
Sy het haar eksamenspanning bestuur deur ook genoeg tyd saam met vriende deur te bring: "Dit het my altyd gehelp om te weet hulle stres ook, dan het ons amper onder mekaar die stres verminder en verwoed saam geswot!"
Rouxlé sê Engels en visuele kuns was haar gunstelingvakke. "Die Engelse literatuur was vir my heerlik, en veral om te hoor hoe die leerlinge in my klas dit verskillend ontleed en interpreteer. Dit is ook maar hoekom ek kuns so geniet - 'n mens kry insig oor ander mense se perspektief."
Haar rolmodel is wyle Amerikaanse regter Ruth Bader Ginsburg van die Amerikaanse hooggeregshof. "Die pad wat sy vir vroue gebaan het, is vir my so indrukwekkend. Ek hou ook van Oscar Wilde, want dis ongelooflik hoe hy emosies op papier kon vasvang."
Rouxlé gaan vanjaar eers as au pair in Amerika werk. Sy het nog nie besluit wat sy wil studeer nie, en glo 'n jaar in die verte vir 'n bietjie lewenservaring en werksondervinding is 'n goeie plan.





















