Matrieks

Ruva het ’n kop vir bou en ontwerp

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ruva Mushongahande was verlede jaar Crawford International Pretoria College se veelsydigste matriek.
Ruva Mushongahande was verlede jaar Crawford International Pretoria College se veelsydigste matriek.

Ruva Mushongahande hou sedert haar dae as kleuter daarvan om te timmer, te bou en konstruksies te ontwerp.

"Ek versamel en speel steeds met Lego. Dis een van my stokperdjies, dit laat my ontspan."

Een van haar geliefde modelle is 'n Porsche 911, vertel die oudleerling van Crawford International Pretoria College. Sy het matriek met 'n indrukwekkende nege onderskeidings geslaag; in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels huistaal, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, wiskunde, Frans tweede addisionele taal, inligtingstegnologie, en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Ruva beplan om vanjaar meganiese ingenieurswese te studeer. Sy beskou dit as die mees omvattende voorgraadse kursus in ingenieurswese.

"Vandaar sal ek kyk wat prikkel my belangstelling - dalk skakel ek oor na elektriese ingenieurswese, of pak 'n nisrigting soos bio-meganiese ingenieurswese aan."

Een van haar gunstelingvakke was ingenieursgrafika en -ontwerp.

"Dis soos tegniese tekeninge, waar jy planne en ontwerpe moet teken. Veral masjinerie interesseer my, ek is ongelooflik detail-georiënteerd. Dit fassineer my hoe elke skroefie, rat en draad hul deel moet doen en inmekaar pas om iets funksioneel te maak."

Sy vertel dat haar matriekjaar nie sonder uitdagings was nie. "Aan die einde van gr. 11 het ek 'n onderskeiding vir fisiese wetenskappe gekry. Tydens die eerste kwartaal van matriek het my gemiddeld onverwags geval, ver onder die standaard wat ek vir myself stel.

"Die res van die jaar het ek ongelooflik hard gewerk om my wetenskappunt te verbeter. Dis veel moeiliker om jou punte weer te laat styg as om dit net te onderhou. Boonop begin jy in jouself twyfel, en jy wonder, is ek regtig so goed as wat ek gedink het? Was my vorige prestasies net 'n gelukskoot?"

Benewens haar akademiese prestasies het sy aan talle buitemuurse aktiwiteite deelgeneem.

Sy lag selfbewus soos sy haar string buitemuurse aktiwiteite opnoem. "Sjoe, daar is baie, ek hou daarvan om besig te bly. Daar was verskeie wiskunde- en taalolimpiades, deelname aan redenaars en debat in Engels en Afrikaans, Delf-eksamens ('n internasionaal erkende Franse eksamen), robotika en sport . . ."

Sy was Crawford Pretoria se hokkiedoelwagter en speel ook basketbal, krieket en sokker om te ontspan.

Verlede jaar het sy die toekenning vir die veelsydigste matriek ontvang en haar klasmaats het ook gestem dat sy die toekenning vir mees uitmuntende student ontvang.

Die skoolhoof, Cheryl Naidoo, het haar aangewys as die leerling in haar graad met die beste leierseienskappe en uitsonderlike karakter.

Sy was verlede jaar 'n uitvoerende raadslid van Crawford se studenteraad, die skool se weergawe van hoofleiers.

"By die skool het ek 'n groep vriende in die laer grade wat ek my ‘kinders' noem. Hulle is my vriende, maar ek geniet dit om 'n tipe mentor vir hulle te wees, hulle te help met hul skoolwerk en raad te gee sodat hulle ook as mense kan ontwikkel," vertel sy.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM