Matrieks

SA skolerugbyspeler spog met 8 A’s

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jaco Grobbelaar (19), die eerste Suid-Afrikaanse skolerugbyspeler wat die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein opgelewer het, het dié prestasie met agt onderskeidings in matriek opgevolg.

Jaco het reeds vandeesweek by die Blou Bulle in Pretoria ingeval om sy loopbaan as professionele rugbyspeler af te skop.

Jaco Grobbelaar Foto: Verskaf
Jaco Grobbelaar Foto: Verskaf

Dié reus van 'n slot, wat 'n staatmaker in die SA Skolespan in 2023 was, het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, biologie, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering.

Hy gaan vanjaar aanlyn in finansiële bestuur aan Stadio studeer.

Met alles wat hy in 2023 bereik het, sê hy sy matriekjaar was 'n wonderlike ervaring.

"Dit het my eie verwagtinge oortref. Ek is regtig bevoorreg om te kon bereik wat ek het. Die harde werk deur die jaar het vrugte afgewerp."

Hy het Vrydag- en Saterdagaande voor die boeke gaan sit en geleer.

"Hoe besiger ek is by die skool, hoe meer het ek gedoen gekry. Ek was saans (ná sport) 18:00 by die huis en het dan tot 21:00 of 21:30 geleer. Ek het hard geleer in die rekordeksamen en toe in die eindeksamen redelik geweet wat daar aangaan," sê hy.

Sy droom is om vir so lank as wat hy kan professioneel rugby te speel, en as dit nie uitwerk nie, sy "plan B" te volg, en dit is om te studeer.

"Rugby het my selfdissipline geleer. Dit is net jy wat jouself daar bo kan kry; dis net jy wat verantwoordelikheid kan aanvaar om jou daar te kry. Ná Covid het ek hard gewerk om bo uit te kom. Tydens die inperkings het ek hard in die gimnasium saam met 'n persoonlike afrigter geoefen om sterk te word."

Hy was nog altyd 'n Blou Bul-ondersteuner en het Pierre Spies altyd bewonder. Nou is sy groot held die Springbok-slot Eben Etzebeth. Hy droom ook daarvan om in sy voetspore te volg om ook eendag die Groen-en-goud oor die kop te trek.

"My pa het my van kleins af geleer: Jy doen jou heel beste of jy los dit. Moenie dit half doen nie."

Jaco geniet jag en die plaaslewe. Sy ma se familie het 'n plaas in die suide van Namibië.

Sy pa, Hannes, 'n rekenmeester, ma, Attela, 'n sekretaresse, en suster, Alida, is sy grootste ondersteuners.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM