Matrieks

Selfkennis is Talish se sleutel tot sukses

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Talish Khelawon het met sewe onderskeidings aan Crawford International Pretoria gematrikuleer.
Talish Khelawon het met sewe onderskeidings aan Crawford International Pretoria gematrikuleer.

As jy ware sukses wil proe, meet jou teen jouself, nie teen jou klasmaats nie.

Dit is die motto van Talish Khelawon, wat verlede jaar 'n matrikulant aan Crawford International Pretoria was.

Hy het met sewe onderskeidings geslaag, in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels huistaal, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, wiskunde en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Hy sê hy het eers werklik begin seëvier toe hy besef hoe belangrik eienskappe soos selfvertroue en deursettingsvermoë is en dat dit eintlik futiel is om met ander mee te ding.

"Jy moet daarna streef om die beste weergawe van jouself te wees. Dit klink dalk soos 'n cliché, maar soms dink ek nie jong mense besef aldag die waarde van selfkennis nie.

"Ek het besef ek kan my energie veel beter aanwend om elke dag 'n beter weergawe te wees van die mens wat ek gister was, eerder as om myself aan ander te probeer bewys."

Wanneer hy ontspan, speel Talish graag videospeletjies of beoefen karate. "Karate en videospeletjies is goed vir my fisieke en geestesgesondheid en keer dat my hele lewe nie net om skool en akademie draai nie.

Tydens sy onderhoud was Talish nog onseker oor sy planne vir vanjaar.

"Ek wil beslis iets studeer wat 'n positiewe verskil in mense se lewe gaan maak. Dalk gaan ek nie die wêreld verander nie, maar ek gaan beslis daarvan 'n beter plek vir sy inwoners maak."

Ten spyte van die talle uitdagings wat sy generasie tans moet trotseer - oorloë, aardverhitting en werkonsekerheid, is hy optimisties oor wat die toekoms inhou.

"Ons is innoveerders en dromers met groot idees. Daar is uitdagings, maar ons generasie is seker die mees bevoorregte in die mens se geskiedenis omdat ons hulpbronne het om die probleme op te los. Met die flits van 'n vinger oor 'n skerm het ons toegang tot soveel kennis, inligting en tegnologie."

Nietemin beklemtoon hy dat sy generasie 'n verantwoordelikheid het om die tegnologiese hulpbronne verantwoordelik te gebruik. Hy meen dit is ook nie 'n plaasvervanger vir menseverhoudings nie.

"Ons moet verstaan hoe ons met mekaar kommunikeer en ons moet bereid wees om ons verskille opsy te plaas. Dis al manier hoe ons vraagstukke soos armoede en diskriminasie sal kan oplos," meen hy.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM