Matrieks

Skaak en wiskunde ‘perfekte pasmaats’ vir Devon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Devon Smit
Devon Smit

Vir Devon Smit (18) van die Hoërskool E.G. Jansen in Boksburg is skaak en wiskunde die perfekte pasmaats.

Die Russiese skaakmeester Garry Kasparov meen die spel verskerp jou fokus, verbeter jou logika en versterk jou selfdissipline. "Dit leer jou dat jou besluite gevolge het en om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit help ook met probleemoplossing met spertye," sê Kasparov.

Al die vaardighede wat die Russiese skaakmeester uitlig, het ook daartoe bygedra dat Devon ses onderskeidings in die matriekeksamen behaal het, in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, inligtingstegnologie, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Hy het ook gevorderde wiskunde deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) geskryf.

"Ek speel al vir jare skaak en geniet die uitdagings wat dit my bied. Wiskunde beproef weer 'n mens se vermoë om probleme op te los. Dit leer jou om patrone raak te sien en dis lekker om te leer - hoe harder jy werk, hoe beter word jy daarin."

Een van sy matriekprestasies waarop hy die trotsste is, is die titel as nasionale o. 18-skaakkampioen wat hy verlede jaar op die Suid-Afrikaanse Skaakkampioenskappe verower het. Tydens sy hoërskoolloopbaan is hy is al verskeie kere as nasionale skaakkampioen in sy ouderdomsgroep bekroon, en hy is in 2020 as die beste internasionale speler op die nasionale skaakkampioenskappe aangewys.

"Ek het in die kwartaal in matriek ewe hard aan skaak en my skoolwerk gewerk, en is trots daarop dat ek die twee kon balanseer."

In die eerste en tweede kwartaal van sy matriekjaar het hy 100% vir wiskunde gekry.

"My agtste vak, gevorderde wiskunde, het wel my tydbestuursvaardighede beproef, omdat dit baie ekstra tyd geverg het. Ek moes my skedule deeglik beplan omdat die skaak, wiskunde en gevorderde wiskunde 'n aansienlike werkslading op my in die matriekjaar geplaas het."

Hy gaan vanjaar verder mededingend aan skaak deelneem terwyl hy aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.

Sy gunsteling-skaakspeler is die Noorweegse skaakmeester Magnus Carlsen. "Hy is al langer as 'n dekade die wêreld se beste skaakspeler. Ek hoop om eendag ook so konstant te presteer en passievol oor skaak te bly," sê Devon.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM