Matrieks

Skool se topmatrikulant vind haar roeping

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Harde werk en deursettingsvermoë van dag een van die akademiese jaar af het die Gekombineerde Skool Balfour in Mpumalanga se topmatrikulant van 2021 dié posisie besorg.

"Ek het ook oor naweke tyd vir myself gemaak om net rustig te wees en uitbranding te voorkom," sê Zaakirah Coovadia (19).

Zaakirah Coovadia tydens die Gekombineerde Skool Balfour in Mpumalanga se prysuitdeling verlede jaar.
Zaakirah Coovadia tydens die Gekombineerde Skool Balfour in Mpumalanga se prysuitdeling verlede jaar.

Sy het onderskeidings in al sewe haar vakke verwerf, naamlik Afrikaans eerste addisionele taal (86%), Engels huistaal (80%), wiskunde (84%), fisiese wetenskappe (86%), lewenswetenskappe (91%), lewensoriëntering (83%) en rekeningkunde (94%).

Die pandemie het die laaste twee skooljare vir haar bemoeilik weens die konstante inperkings en die gebrek aan klasse wat van aangesig tot aangesig aangebied word.

Daarby het Zaakirah ook haar ouma, wat by hulle gewoon het, in haar matriekjaar weens Covid-19 aan die dood afgestaan. Sy moes self ook die virus in dieselfde tyd oorkom.

Sy gaan vanjaar aptekerswese aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer.

"Vandat ek 'n klein dogtertjie was het ek myself in die mediese veld gesien. Ek wou 'n manier vind om terug te gee aan my gemeenskap, want ek het dit nog altyd geniet om mense te help. So te midde van Covid-19, toe ek sien hoe 'n groot behoefte daar aan gesondheidsorgwerkers was om mense raad te gee, het ek na aptekerswese begin kyk. Dit was uiteindelik 'n goeie manier om alles waarna ek soek, het in 'n loopbaan te integreer. Dit is ook 'n baie diverse loopbaan met baie geleenthede, soos pasiëntesorg of navorsing," sê Zaakirah.

Haar raad aan die matrikulante van 2022 is om nederig en gefokus te bly. "Die moeilike tye maak jou sterker, so volhard en werk konsekwent. Eet goed, slaap goed, bid goed, speel goed en leer hard. As jy enige vorm van hulp nodig het, hetsy akademies of emosioneel, vra vir hulp, jy is nie alleen nie."

Zaakirah Coovadia saam met haar pa, Imraan, en ma, Asma.
Zaakirah Coovadia saam met haar pa, Imraan, en ma, Asma.
Ischke van Eeden

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM