Matrieks

Slapelose nagte moeite werd vir dié Springbok-verkenner

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Philip Obermeyer
Philip Obermeyer

Dit verg gemiddeld 'n jaar en 'n half om as 'n Springbok-verkenner te kwalifiseer, maar Philip Obermeyer van Crawford Ruimsig in Roodepoort het die hoogste verkennerkwalifikasie in net meer as drie maande behaal.

"Dit het ongelooflike fokus en opoffering geverg. Ek het in 2022 'n Springbok-verkenner geword tydens my gr. 11-eksamen.

"Jy moet al die take voor jou 18de verjaardag voltooi, en ek het in 2022 18 geword," sê hy.

Philip het homself fisiek en geestelik tot die uiterste beproef. Hy moes staptogte van tientalle kilometers beplan en lei, verslae daaroor opstel, gemeenskapsdiens voltooi en 'n ekspedisie vir jong verkenners lei waar hy hulle die wildernis in neem om te kampeer. En dit was net 'n paar van die take.

"Ek het myself tot die uiterste beproef en ongelukkig het dit my gesondheid benadeel."

Hy moes dikwels deurnag om al die verslae wat met die ekspedisies gepaard gaan, te voltooi. Hy moes ook sorg dat hy nie met sy skoolwerk agterraak nie.

"My slaapsiklus het nog nie herstel nie. Ek sukkel om te konsentreer en my verstand is nie aldag so helder nie," sê hy.

Verlede jaar het hy weer sy bes gedoen om akademies te presteer, maar sy gesondheidsprobleme en 'n rugbybesering het hom tydens sy matriekjaar gekniehalter. Hy moes medisyne neem om sy immuniteit te versterk en simptome van uitbranding te behandel, maar tydens die finale matriekeksamen het sy slaappatroon en geheue, kreatiwiteit en logiese redenering steeds nie herstel nie. Ten spyte daarvan kon hy matriek met universiteitsvrystelling slaag.

Hy is egter nie spyt dat hy homself tot die uiterste beproef het nie.

"Ek het besef ek is tot veel meer in staat as wat ek gedink het. Dit was goed vir my selfvertroue en ek weet nou ek beskik oor veerkragtigheid."

Hy gaan vanjaar industriële ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer en wil steeds by die verkenners betrokke wees.

"Ek wil graag laerskool- en hoërskoolleerlinge aanmoedig om hulle by die verkenners aan te sluit en aan hulle 'n ander perspektief te wys wanneer dit kom by leierskap, kommunikasie en om by jou gemeenskap betrokke te wees."

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM