Matrieks

Slimkop met 7 A’s: ‘Onderwys is my roeping’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Al het Danike Korf (18) matriek aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met sewe onderskeidings geslaag, is sy nie skaam om te sê sy is nie eens naby daaraan om in die skool se toptien- akademiese groep te wees nie.

"Inteendeel, ek kyk na die toptien en wonder hoe hulle kans sien vir die ander aktiwiteite wat hulle ook doen!"

Danike Korf kan nie ophou glimlag sedert sy besluit het om onderwys te gaan studeer nie.
Danike Korf kan nie ophou glimlag sedert sy besluit het om onderwys te gaan studeer nie.

Maar Danike spog met 'n rits ander prestasies, al bloos sy wanneer sy daaroor praat. "Ek was op die leierraad en ons koor, Blou Engele, se voorsitter. Die koor is die punt van my hart. Ons het verlede jaar die Eisteddfod se meisieskoorafdeling en die algemene afdeling gewen, en ons het saam met die Hoërskool Stellenberg (in die Kaap) die ATKV-Applous se eerste plek gedeel.

"Ek het die Van Huyssteens-oratorsfees se tweetalige gr. 12-afdeling gewen en die ATKV se voorbereide redenaarsafdeling vir gr. 10-12."

Sy het nie verlede jaar aan debat deelgeneem nie, al het sy dit ander jare graag gedoen, maar eerder ander afgerig omdat sy besef het sy het baie hooi op haar vurk.

En nes Danike haar eie paadjie op skool gestap het - met onderwysers en vriendinne wie se lof sy besing - lyk haar planne ook anders as dié van haar ouers, Lizel en Krisjan, en selfs sussie, Karlize (25), en ouboet, Krisjan (26).

"My ma het 'n doktorsgraad en is so slim ek weet nie eens wat sy doen nie. My pa 'n advokaat. My sus doen medies en broer iets in BSc. Dis almal out to get it-loopbane. Ek het heeltyd gedink ek moet dit ook doen, maar toe besef ek wiskunde is nie vir my lekker nie. En wetenskap was beter, maar ook nie baie beter nie."

Sy skuif toe oor na wiskundige geletterdheid en besigheidstudies, die "beste besluit wat ek ooit kon maak". En met aansporing van 'n onderwyser het sy toe besef sy wil onderwys aan die Universiteit van Noordwes studeer. "Want ek wil besigheidstudies en geskiedenis gee. Ek het geleer die verhoudinge wat jy vorm in jou lewe, met wie jy dit vorm en met wie jy jouself omring, is dié belangrikste ding in die lewe."

Danike moedig graag ander aan om ook hul passies te volg, eerder as die dinge wat hulle voel hulle moet doen of van hulle verwag word.

"Om drama en debat in matriek te staak was vir my moeilik. Maar ek het besef ek vaar nie goed teen 50% kapasiteit nie en ek wil nie iemand wees wat enigiets halfhartig doen nie. Ek het op 'n tyd selfs uit voeling gevoel met my vriendinne, want om 'n pouse net 'n halfuur te sit en gesels is net so belangrik."

Sy sien uit om haar kennis terug te ploeg wanneer sy 'n onderwyser is. "En jy kan net raai by watter skool ek wil klasgee: natuurlik Affies!"

Lucia Poolman

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM