Matrieks

Slimkop van Grey wil ingenieur word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Louis Janse van Vuren (18) van Grey Kollege in Bloemfontein het dit vir 'n oomblik oorweeg om ná skool 'n professionele gholfspeler te word. Maar dié topmatrikulant se agt A's wys sy uiteindelike keuse om 'n ingenieur te word, was die regte een.

Louis het onderskeidings in Afrikaans, Engels (eerste addisionele taal), wiskunde, biologie, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, rekeningkunde en Duits (derde addisionele taal) behaal.

Hy gaan vanjaar ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

"Ek gaan waar die Here my lei," sê hy oor sy toekoms. "Ek is gereed vir my drome om waar te word."

Louis Janse van Vuren Foto: Verskaf
Louis Janse van Vuren Foto: Verskaf

Sy pa, Petri, en ma, Suzaane, is albei rekenmeesters, hoewel sy ma as 'n gr. R-juffrou werk. Hy is 'n enkelkind en sê sy ouers gun hom die geleentheid om sy drome na te jaag.

As lid van Grey se eerste gholfspan met 'n voorgee van tussen 0 en 3 het hy dit eers oorweeg om 'n professionele gholfspeler te word, maar die studies het gewen. "Ek het dit oorweeg, maar dis nie vir nou dadelik nie. Dalk eendag," sê hy.

Hy het in sy matriekjaar ook hokkie gespeel, maar net vir die lekkerte.

Sy resep om goed in die matriekeindeksamen te vaar was om deur sy skoolloopbaan "redelik produktief" te wees.

"Nie noodwendig met huiswerk nie, maar veral met toetse. Meestal was dit net om myself regtig te geniet en die beste te gee vir die oomblik.

"Ek geweet ek kan dit nou geniet op die sportveld, maar in die aande wanneer ek leer moes ek ook my beste gee. Jy moet nou en dan leer, maar dis ook belangrik om sport te speel," is sy filosofie.

Louis sê hy gaan ingenieurswese studeer omdat dit vir hom lekker is om probleme op te los.

"Dit is lekker om dinge te bou en nuwe dinge uit te dink. My grootste mikpunt is om eendag op te staan en elke dag lus te wees om te gaan werk, waar ek myself regtig kan geniet. Iets kan gebeur vandag wat nuut is en (dat ek) nie hoef te wag vir wat die dag mag inhou nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM