Johandré Pienaar (19) het nie net vier onderskeidings ingeryg nie, maar verlede jaar was vol sportprestasies vir dié leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. "Die eerste ding waarop ek trots is, is dat ek kon aflos hardloop. Dis net vier ouens in die graad wat die kans kry om dit te doen, so dit was 'n hoogtepunt."
Daarna het hy onder meer goue medaljes in spiesgooi gewen by die Suid-Afrikaanse skoletoernooi en by die o 20 Afrika-kampioenskap in Zambië.

"My persoonlike beste gooi is 68,99 m, maar amptelik was my beste verlede jaar 67,72. Ek het so hard gemik vir nader aan 70, maar dis indrukwekkend hoe ver 2 m kan wees met 'n spies."
Hy sê om teen universiteitsmanne deel te neem met 'n spies wat swaarder is as vantevore, is nie so maklik soos wat dit klink nie. "Jy moet die hele jaar jou arm oppas maar sterker maak. Dit sit baie spanning op jou lyf en jy moet dit mooi beheer."
Johandré wou eintlik net rugby speel, maar het in gr. 9 vir die tweede keer sy skouer gebreek. "Toe moes ek maar die besluit neem om op iets anders te fokus, al was dit vir my 'n groot teleurstelling."
Dit was laataande en vroeë oggende wat hom net so goed in akademie laat presteer het. "Ek moes my tyd baie fyn bestuur, maar ek like nogal die akademie ook, dis lekker om slim te word," sê die man wie se kop in 'n sakerigting staan.
Hy en sy broer SJ, wat nou derde jaar medies aan US studeer, is reeds vol sakeplanne, sê hy. "Dis iets wat by die skool ook vir my lekker was om met my vriende te bespreek. Daar word vriende soos broers."
Sy sussie Zanetha is nou gr. 10 in die Afrikaans Hoër Meisieskool, sy ma Maretha, 'n apteker, en pa Stefan het darem nog nie heeltemal leë nes-sindroom nie. "Dit was klaar vir hulle moeilik toe SJ weg is, so nou is dit nog erger," skerts hy.
Hy moedig ander leerlinge aan om "altyd die nou paadjie te volg".
"Wees doelgerig en moenie hier teen gr. 9 of 10 die verkeerde vriende kies of besluite neem wat jou drome in gedrang kan bring nie. Moenie eers begin met dwelms of iets nie. Kies jou vriende reg en wees 'n uitsondering en 'n voorbeeld vir ander."




















