Wanneer Kayleigh van der Merwe (18) op haar matriekjaar terugkyk, sal sy - ondanks die uitdagings - niks anders doen nie.
Sy het verlede jaar met onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering en gasvryheidstudie aan die Hoërskool Oosterlig in Boksburg gematrikuleer.

"Daar was dae dat ek van 07:00 tot 21:00 by die skool was. My besige skedule was 'n groot uitdaging en daar was dae dat ek gesukkel het om 'n balans te handhaaf," onthou Kayleigh.
"Ek was deel van die revue, Authentic Heart, wat gegaan het oor tieners en hul uitdagings. Ek was een van net vyf matrieks wat dit verlede jaar gedoen het. Die revue het gelei tot baie laat aande se oefening, waarna ek nog moes gaan leer het."
Sy sê sy was vroeër in haar matriekjaar baie depressief en haar ouers wou haar uit die revue onttrek.
"Ek het egter my ouers oortuig dat ek nie wou opgee met iets waarmee ek reeds begin het nie. Ek het geleer om my houding oor die revue te verander en gou daarna het ek dit baie geniet en was dit vir my 'n blaaskans van al die leer."
Ménière-siekte is 'n paar jaar gelede by Kayleigh se pa gediagnoseer wat veroorsaak dat hy vertigo-aanvalle kry wat soms so erg is dat haar ma hom hospitaal toe moet neem.
"Daar was tye dat ek en my boetie (21) alleen by die huis moet bly omdat my ma hom hospitaal toe geneem het omdat hy so sleg voel. Ons het geleer om daarmee saam te leef, al was dit soms moeilik om dinge as 'n gesin saam te kan geniet."
Kayleigh gaan vanjaar spraakterapie aan die Universiteit van Pretoria studeer.
"Ek wou aanvanklik onderwys studeer, maar het lewensonderrig vreeslik geniet en wou meer daaroor leer. Ek het navorsing gedoen en toe eers in my matriekjaar op spraakterapie as 'n studierigting besluit," sê sy.
"Ek het reeds by universiteite aansoek gedoen om 'n onderwysgraad en moes hulle toe e-pos en vra of ek kon verander na spraakterapie. Ek sal dit wel verkies om eendag met klein kindertjies te werk en 'n verskil in hul lewe te maak."
Sy sê sy sal die geleentheid verwelkom om vir 'n ruk oorsee te gaan studeer of werk, maar sal glad nie omgee as Suid-Afrika haar toekoms bly nie.
"Ek hoop my generasie van jong mense sal ons idees en positiwiteit gebruik om ons land te verbeter. Ek glo ons het 'n hart vir mense wat sukkel en sal hard werk om dit te verander."


















