Jocelyn Hobbs (19) weet al van gr. 6 af dat sy eendag 'n veearts wil word. Sy is nou 'n treetjie nader aan haar droomberoep, al het sy nog nie keuring vir veeartsenykunde gekry nie.
Jocelyn, wat in 2023 aan die Hoërskool Oosterlig in Boksburg gematrikuleer het, het vier onderskeidings behaal en is op die waglys om in haar droomrigting te gaan studeer.

"Ek gaan intussen BSc (dierkunde) by die Universiteit van Pretoria studeer. Gelukkig is die modules van die eerste jaar van dié graad baie dieselfde as dié van die eerste jaar van veeartsenykunde. My mikpunt is dat my punte goed genoeg kan wees om ná my eerste jaar oor te skuif."
Jocelyn sê sy wil graag eendag help om mediese versorging van diere meer bekostigbaar te maak.
"Dit is baie duur om behoorlik na diere om te sien, van die inentings tot die sterilisasie. Ek hoop ek kan deel wees van 'n proses waar 'n mens diere kan behandel sonder om die bank te breek. Ek sal ook daarvan hou om vir 'n ruk met wilde diere te werk en deel te wees van bewaringsaksies. Maar later as ek eendag 'n gesin het, sal ek graag meer gereelde ure as 'n gewone veearts wil werk," vertel sy.
Jocelyn sê haar gunstelingvak in matriek was lewenswetenskappe, en dis nie verbasend as 'n mens haar studierigting in ag neem nie.
"Elke sisteem in die liggaam het 'n spesifieke doel en is spesiaal geskep en gevorm vir die perfekte werking van die liggaam. Dit is so interessant hoe die ekosisteem homself kan beheer en hoe die balans tussen organismes perfek gehandhaaf word vir die habitat. Elke funksie van die brein en hoe sekere faktore diere se gedrag beïnvloed, fassineer my. Dit is die studie van lewe."
Omdat die plekke waar 'n mens veeartsenykunde kan studeer in Suid-Afrika so beperk is, sê Jocelyn dat sy dit sal oorweeg om oorsee te gaan studeer.
"Ek wil nie vier jaar wag voordat ek kan oorskuif nie. As deure oopgaan om my droom oorsee te gaan bewaarheid, sal ek dit beslis doen. Maar ek sal altyd terugkom na Suid-Afrika, ek wil deel wees van die verandering wat ons in die land wil sien."
Jocelyn se rolmodel is die Ier Aleen Cust, die eerste vroulike veearts.
"Sy het haar droom nagejaag, al het almal in posisies van gesag haar afgekeur en nie haar aansoek aanvaar om die finale eksamen af te lê nie. Sy het in die Eerste Wêreldoorlog in elk geval haar dienste aangebied om na perde om te sien, en vanweë haar dryfkrag en hardkoppigheid om nie moed op te gee nie, het hulle haar aanvaar en haar droom het 'n realiteit geword."


















