Matrieks

Tristain droom van groen en goud

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tristain Coetzer, oudleerling van Leeuwenhof Akademie en kaptein van die Valke se o. 19-vrouerugbyspan.
Tristain Coetzer, oudleerling van Leeuwenhof Akademie en kaptein van die Valke se o. 19-vrouerugbyspan.

Die eerste keer toe Tristain Coetzer op die rugbyveld uitdraf, het dit gevoel asof iets binne haar "net kliek".

"Dis asof ek instinktief geweet het wat om te doen," vertel dié oudleerling van Leeuwenhof Akademie en kaptein van die Valke se o. 19-vrouerugbyspan.

"Ek was in gr. 8 en my pa het voorgestel dat ek rugby 'n kans gee. Alles het net so natuurlik gekom. Dit was seker die beste besluit wat ek tot dusver geneem het.

"Rugby leer jou om taai te wees en om nooit op te gee nie. Wanneer dinge moeilik raak - dis juis wanneer jy jou hart moet uitspeel."

Tristain het matriek met twee onderskeidings geslaag en gaan vanjaar sportwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar sy 'n beurs vir haar rugbyprestasies gekry het. Sy gaan ook vanjaar professioneel rugby speel vir die Valke en vir Tukkies.

"My groot droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf. Maar dinge is nie altyd so maklik vir vrouerugbyspelers nie."

Mansrugby kry die leeueaandeel van finansiering en borgskappe en vrouerugby moet dikwels met oorskiet tevrede wees. In Suid-Afrika is die sport nog in sy babaskoene en Tristain meen daar is baie potensieel om dit verder te ontwikkel.

"Dis jammer dat daar nie meer geld in die sport belê word nie. As ons genoeg finansiering kan kry, kan rugby talle vroue se lewe verander."

Een van haar rolmodelle is Sinelitha Noxeke, 'n Springbok en die Bulls Daisies se slot.

"Sy kom vanuit ongelooflik uitdagende omstandighede, maar my pa (Jaco Coetzer, hoof van Valke-ontwikkeling) het haar potensieel raakgesien en haar geslyp.

"My pa is my ander rolmodel. Hy versit berge vir vrouerugby en om geleenthede vir vroue nes Sinelitha te skep. Hy is die rede waarom ek begin rugby speel het, hy is die rede waarom ek wil aanhou daarmee en 'n Springbok wil word."

Haar pa het ook die Gauteng-instituut vir vrouerugby gestig, maar dit moes ongelukkig in 2022 sluit weens 'n tekort aan finansiering.

"As meer maatskappye in vrouerugby belê en rugbyspelers borg, kan soveel vroue uit armoede gelig word. Rugby maak deure vir jou oop; jy kry beurse en word deur rugbyklubs gekontrakteer."

Ongelukkig is daar nog vooroordele dat rugby 'n mansport is en dat vroue nie veronderstel is om fisiek op die sportveld te raak nie; 'n siening wat Tristain as loutere twak beskou.

"Hopelik sal die onlangse sukses en blootstelling van Banyana Banyana by die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue ook oorspoel na vrouerugby," hoop sy.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM