Sy het 'n voorliefde vir tale, 'n kop vir sake en uitmuntende leierskapseienskappe. Tshedza Marema se toekoms lyk skitterblink. Sy spog met agt onderskeidings, naamlik vir rekeningkunde, Afrikaans eerste addisionele taal, besigheidstudies, ekonomie, Engels huistaal, lewensoriëntering, wiskunde en Frans tweede addisionele taal.
Haar passie vir tale het gesorg dat sy verlede jaar Crawford International School in Pretoria se trofee vir beste leerling in tale gewen het. Die trofee word toegeken aan leerlinge met die hoogste punte vir Engels en Afrikaans. Sy was boonop die beste leerling in Frans.
"Hoe meer tale jy kan praat, hoe meer geleenthede kry jy in die lewe," meen sy.
Sy is ook aangewys as die beste presteerder in besigheidstudies en beplan om vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.
"Een van my hoogtepunte van verlede jaar was om aan die skole-uitdaging van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee deel te neem as my span se president." Sy was ook die sekretaris van Crawford se leerlingraad.
Deeglike beplanning en 'n streng studieskedule het gekeer dat sy te veel spanning ervaar en uitbrand.
"Matriek was 'n baie besige jaar en die werklas verskil aansienlik van gr. 10 en gr. 11. Dit blits verby en wanneer jy weer sien, lê die eksamens voor. As ek enige raad vir vanjaar se matrieks het, is dit om vroeg te begin leer. Moenie uitstel nie, die werk hoop op en as jy weer sien, het jy maande se werk wat jy onder die knie moet kry."
Wanneer Tshedza nie besig was met skoolwerk nie, lees sy graag, speel klavier, hekel en leer nuwe tale aan.
"My stokperdjies voed my kreatiewe kant en gee my kans om asem te skep tussen my studies. Maar my skoolwerk was altyd my eerste prioriteit, ek kon eers ontspan as al my werk vir die dag afgehandel was."
Haar geloof het haar ook deur die eksamens gedra. "Elke keer wanneer ek vasgebrand het of oorweldig gevoel het, sou ek asem skep en bid om helderheid. Daarna kon ek weer fokus."




















