Vir talle matrieks is skool nou amptelik iets van die verlede nadat hulle Vrydag almal hul derde vraestel vir Afrikaans geskryf het. Vraestelle van enkele keusevakke lê nog volgende week voor.
By die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein het die vreugdevure hoog gebrand toe die leerlinge die eksamenlokaal verlaat en die las van die afgelope jare se hard leer afgeskud het.

Sommige van hulle het sommer net daar vonkelwyn oopgeskiet om dié mylpaal te vier.
Vir drie vriendinne, Nadine Heys, Xandri Snyders en Megan de la Rey, is dit nog onwerklik.
"Ons is bly om klaar te wees met eksamen, maar nog glad nie gereed om ons maats en skool te groet nie," sê Xandri.
Dié drie is al sedert driejarige ouderdom saam in Oranje.
Hulle wil volgende jaar onderskeidelik in Potchefstroom en Bloemfontein studeer, maar wag nog vir finale keuring vir hul studierigtings.
Die vriendinne is dit eens dat hulle bly is om die eksamen met Afrikaanse opstelle te kon afsluit.
"Eerder dit as wiskunde of skeinat," sê Nadine.
Met die vraestel kon hulle hul gedagtes laat gaan en aan hul kreatiewe denke uiting gee.
Megan het 'n opstelstorie geskryf gegrond op 'n foto in die vraestel van 'n bakkie wat met een helfte op 'n berg staan en die ander helfte hang van die berg af.
"Ek het die verhaal geskryf van 'n ongeluksvoël wat haarself altyd in lawwe situasies bevind. Haar naam was Dom Donsie."

Xandri kon 'n bietjie dieper delf oor hoe haar toekoms gaan uitspeel.
"Die tema was ‘Dis nou jou kans' en ek het oor my toekoms geskryf met die metafoor van koekbak. Waar ek gewoonlik grappies maak, het ek dié keer 'n bietjie dieper geskryf," sê sy.
Nadine sê dié tyd van die jaar is 'n mens behoorlik moeg en sy sien uit daarna om 'n bietjie asem te skep en te rus.
Sy vertrek volgende week met matriekvakansie op die Net Matrieks Bootreis.
Xandri en Megan sal eers ná Kersfees met matriekvakansie gaan en gaan 'n bietjie in Jeffreysbaai baljaar.



















