Toe Brenda Ndlovu twee jaar oud was, is sy saam met haar ma hospitaal toe vir die geboorte van haar boetie.
Die volgende dag was sy en die pasgebore Sakkie skielik op hulself aangewese. Haar ma het haarself by die hospitaal ontslaan en haar twee kindertjies net daar gelos - verdoem tot 'n lewe as weeskinders.

Die twee kinders het oor die volgende anderhalwe dekade van weeshuis tot aanneemhuis tot pleeghuis tot kinderhuis gegaan.
Maar toe Brenda (19) Vrydagoggend kort ná eenuur haar matriekuitslae kry, was dit finale bevestiging dat haar ma se slegte keuses nie haar draaiboek besoedel het nie.
Ten spyte daarvan dat die mat in haar jong lewe telkens onder haar uitgeruk is, het Brenda haar matriek by die Hoërskool Oos-Moot geslaag met 'n B-gemiddeld én universiteitsvrystelling. Sy gaan nou maatskaplike werk en kriminologie aan die Universiteit van Pretoria studeer.
"Ek wil nie hê ander mense moet in die situasies geplaas word waarin ek was nie," sê sy. "Daar moet iemand wees om hulle te help voor dit gebeur."
Brenda sê sy het oor die jare verstaan haar ma was siek - "ek dink sy't een of ander seksueel oordraagbare siekte gehad," sê sy - toe sy haar kinders agtergelaat het. Waar Sakkie se pa was, weet sy nie.
En haar eie pa? "Hy't seker maar gaan melk haal," spot sy.
Sy en haar kleinboet is in 'n weeshuis in Midrand geplaas, waar hulle twee jaar was.
"Toe word ons aangeneem deur 'n wit paartjie, die De Bruins. Ons was vier jaar by hulle toe hulle geskei is, ek was agt, en hulle het toe besluit ons moet by die man bly. Ons is saam met hom Bela-Bela toe en het daar 'n lewe gemaak . . . maar toe ek 15 was, het hy 'n hartaanval gehad en is hy dood," sê Brenda.
Dis nou Tuks of Niks vir my.
Brenda sê haar beste vriendin se familie, die Humphrey's, het hulle daarna 'n paar maande lank oor hulle ontferm.
"Ek is so dankbaar en lief vir hulle," sê sy. "Ons was by hulle tot die derde kwartaal, en is uiteindelik weg by hulle sodat my boetie na 'n spesiale skool in Pretoria kon gaan. Hy was baie emosioneel en het homself van die wêreld afgesluit, so hulle het ons toe kinderhuis toe gestuur."
Vir haar was 'n terugkeer kinderhuis toe, ná meer as 'n dekade as aangenome kind, moeilik. "Dit was veral die geboelie wat my ondergekry het," sê sy.
"Maar hulle het nie lank dit met my gedoen nie. Toe raak ek hard, en toe wys ek hulle wie ek is. Nie lank nie toe begin maak hulle vir my koffie," spot sy.
Brenda sê sy was vasberade om haarself 'n kans op 'n beter toekoms te gee.
Met haar skooldae agter haar woon Brenda nou in Echo, 'n deurganghuis vir kinders wat te oud vir die kinderhuis is. Sy sal daar bly terwyl sy studeer, sê sy.
"Dis nou Tuks of Niks vir my," sê sy met 'n sonnige stem oor die avontuur wat nou op haar wag. "Ek kan skaars wag."














