Die meeste matrikulante in die Wes-Kaap het hul eindeksamen afgesluit met Afrikaans se vraestel drie.Netwerk24 het by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gaan kyk hoe dié leerlinge hul laaste skooldag vier.

Die meer as 80 leerlinge het dit behoorlik gedoen deur, volgens tradisie, in die skool se swembad te spring.Vanjaar is 'n nuwe tradisie gevestig: hulle het 'n klok gelui. Hulle skenk ook elke jaar hul skoolklere en skoolskoene aan die klerebank.

Vir Bernard Wiesse was vandag se vraestel lank."Die vraestel het verskriklik lank gevoel. Ek dink ons almal voel dieselfde, maar dit was beter as die rekordeksamen."Die rooster was so opgestel dat ons baie tyd gehad het om te leer."
Sy tasse is gepak en hy gaan in Plettenbergbaai vakansie hou. Hy het ook planne om volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch in 'n B.Com-rigting te studeer.

Claudia Stip het vandag se vraestel geniet. "Die vraestel was lekker en ek dink dit het goed gegaan. Daar was verskeie onderwerpe om van te kies".
Stip is egter nog nie klaar met eksamen nie en skryf nog volgende week.

"Kan ek net sê die departement van basiese onderwys is baie onregverdig teenoor ons wat nog musiek en landboutegnologie volgende week moet skryf terwyl die res van ons klasmaats al klaar is".
Na die eksamen gaan sy saam met haar vriende en familie vakansie hou. Aanstaande jaar gaan sy in Stellenbosch B.Com (internasionale handel) studeer.

Adam Liebenberg sê dit was regtig 'n lekker vraestel."Ek geniet my altyd gate uit met kreatiewe skryfwerk en het dié vraestel geniet. Dit was in die algemeen 'n goeie vraestel."
Hy gaan die vakansie na Bali en besluit nog wat hy volgende jaar gaan doen.

Timoné Joubert het 'n goeie ervaring met vandag se vraestel gehad. Sy was wel verbaas dat hulle nie 'n dagboekinskrywing moes doen nie. Vir die vakansie gaan sy Hartenbos toe "om shows te gaan kyk".

Luwyke Steyn meen ook dit was 'n baie lekker en eenvoudige vraestel. "Ek dink ons was goed voorbereid." Hy gaan volgende jaar aan die Universiteit van Noordwes musiek studeer en glo volgende week se vraestel sal hom daarop voorberei.














