Matrieks

Volwassenheid van matrikulante is opvallend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vir Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap), wat verlede jaar die eerste keer 'n beoordelaar van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie se eindronde was, was die volwassenheid van die finaliste in die kompetisie opvallend. "Die leerlinge was briljant en ek dink hul toekoms lyk goed."

Vir Absa is dit belangrik om na die jeug om te sien. "Hulle is die toekomstige leiers en ons moet baie in hulle belê. Só belê ons ook in die land en selfs in die wêreld," sê Brian. "Op hierdie manier kan 'n beter toekoms verseker word - een geval op 'n slag."

Absa dra R85 500 by tot die prysgeld van die 14 topfinaliste in hierdie kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad.

Lourens van Niekerk, verlede jaar hoofseun van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein en een van verlede jaar se 14 finaliste, verwys dadelik na die voordeel daarvan om op die eerste dag in te stap en daar is reeds bekende gesigte. Die meerderheid van die topgroep is, soos Lourens, vanjaar mediese studente.

Absa is een van die borge van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Links is Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap) saam met 2022 se finalis Lourens van Niekerk en Leoni Wessels van Absa-verhoudingsbankdienste.  Foto: SISKA MARTIN
Absa is een van die borge van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Links is Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap) saam met 2022 se finalis Lourens van Niekerk en Leoni Wessels van Absa-verhoudingsbankdienste. Foto: SISKA MARTIN

"Ons help mekaar met werk, gee emosionele ondersteuning en is vriende en gesels selfs hartsake oor 'n koppie koffie."

Die akademiese jaar het vinnig weggetrek en hy geniet sy studies terdeë. Lourens sê hy het geleer hy studeer beter as daar iemand is wat saam met hom leer - nie noodwendig in dieselfde vertrek of dieselfde vak nie, maar min of meer dieselfde tyd. "Dis lekker om te weet iewers is nog iemand wat in dieselfde bootjie as jy is."

Om van 08:00 tot 16:00 klas te hê, was vir hom 'n groot aanpassing. "Ek besef nou slaap is lekkerder as eet!"

Hy vertel die eindronde het ook vir sy ouers baie beteken, want ook hulle het blywende vriendskappe daar gevorm.

Skryf nou in

Veelsydige matrikulante wat akademies presteer, betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole, en wat beoog om in 2024 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.

Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet op die vorm aangebring word.

Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, geskenke ter waarde van R10 000, en gaan na die eindronde-geleentheid in Bloemfontein .

Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik. Vir inskryfvorms, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM