Wanneer twee kuiltjie-gesiggies saam die wêreld inkom, is dit nie vreemd dat hulle gereeld die aandag trek nie.
Die Ngobeni-tweeling (18) van Zeerust in Noordwes is egter nou gereed om elk hul eie toekoms in te gaan. Didintle en Nhlanhla is een van twee pare tweelinge wat die Hoërskool Zeerust opgelewer het.
Die Ngobeni- en Chabane- (Kgalalelo en Tshegofatso) tweelinge het verlede jaar aan dié skool gematrikuleer en almal geslaag, en Tshegofatso het 'n onderskeiding in besigheidstudies behaal.

Kgalalelo het reeds voorlopige toelating tot verskeie universiteite vir haar studies in geoktrooieerde rekenmeesterskap gekry, maar sy hoop op die Universiteit van die Wes-Kaap omdat haar tweelingsussie ook daar gaan studeer. "Ek was nog nooit gek oor lees nie, maar ek hou daarvan om met syfers te werk."
Die 18-jariges is baie geheg aan mekaar, al het hulle soms vasgesit toe hulle jonger was. "Ek is meer van 'n ekstrovert en hou daarvan om uit te gaan, met vriende te kuier en in ander mense se geselskap te wees," sê Kgalalelo. "Ek kan nie my lewe sonder my sussie voorstel nie. Ons het veral in ons hoërskooljare goeie maats geword."
Kgalalelo het 'n bietjie vlinders in haar maag om hul stil, klein dorpie vir Kaapstad te verruil, maar sy is tog ook opgewonde oor die nuwe lewe wat daar wag.
Tshegofatso gaan 'n regsgraad aan die Universiteit van die Wes-Kaap pak, en veral die veld van BCom-regte interesseer haar. "Ek droom daarvan om nog by die grootste regsfirma in die land te werk."
Die tweelingsussies het 'n ouer broer. Hul ma, Petrus, en pa, Modichaba, werk albei by Noordwes se onderwysdepartement.
Hoërskool Zeerust se ander tweeling kom uit 'n groot gesin. Hulle het drie sibbe, van wie twee ook tweelingsussies is.
Didintle en Nhlanhla is die jongste in hul gesin.

Didintle het by verskeie universiteite aansoek gedoen om verpleegkunde te studeer, maar haar grootste hoop is om by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom- of Vanderbijlpark-kampus finale keuring te kry omdat dit die naaste aan haar tuisdorp is.
"Die mediese veld het my van kleins af getrek, maar my belangstelling is veral geprikkel toe ek op hoërskool lewenswetenskappe begin neem het."
Die Ngobeni-tweeling is albei introverte, maar sê hul persoonlikhede en uitgangspunte verskil ook baie. Die twee is baie geheg aan mekaar. "Sy is altyd daar vir my," sê Nhlanhla. "Ons het baie aandag gekry toe ons jonger was, ook omdat ons albei kuiltjies het."
Vir Didintle is dit 'n groot voordeel om altyd 'n vriend in jou tweeling te hê. Nhlanhla is nog onseker oor sy planne vir vanjaar, maar hy oorweeg om in sy ouers se voetspore te volg en 'n loopbaan in die onderwys te volg.
Peter en Bonani, die tweeling se ouers, is albei onderwysers.



















