Vir sommige mense bly wiskunde hul hele lewe lank 'n enigma, terwyl somme maak vir ander sommer natuurlik kom.
Shani Jansen van Rensburg (18) is duidelik 'n wiskunde-vraat - onder die rits onderskeidings wat sy verlede jaar behaal het as matrikulant aan die Hoërskool Randburg, was onder meer vir wiskunde en gevorderde-program-wiskunde, 'n vak van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)).
Haar ander onderskeidings is vir Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, ekonomie, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en rekenaartoepassingstegnologie.
"My grootste prestasie verlede jaar was om aangewys te word as die topstudent in addisionele wiskunde in die land. Dit het regtig harde werk vereis want dis 'n baie moeilike vak. Dit is nie net teorie wat jy leer nie, jy moet dink, verstaan en toepas. Ek het voor die Junie-eksamen seker vir twee weke net daaraan gewerk."

Haar harde werk het duidelik vrugte afgewerp, en tussen al die wiskunde deur het sy darem tyd gehad vir 'n lekker matriekjaar. Sy was Randburg se hoofmeisie en het ook uitgeblink op die sportveld waar sy in die eerste netbalspan gespeel het.
"Balans is vir my belangrik. Ek was in die verlede baie senuagtig, veral oor akademie. As 'n mens nog altyd goed gedoen het, is daar 'n sekere verwagting. Ek moes leer om te besef as iets nie uitwerk nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Harde werk en voorbereiding is hoe ek keer dat ek nie te veel stres nie!"
Shani vertel sy is omring deur mense in die rekeningkunde-veld - albei haar ouers, boetie en 'n neef is rekeningkundiges. Sy het dit ook oorweeg, maar het in haar hoërskooljare ernstig begin dink aan medies.
"Ek het 'n kursus gedoen met die naam Apprentice Doctor. Daar het ons praktiese simulasies gedoen van byvoorbeeld hoe om steke of 'n drup in te sit. Ek het toe besef ek sal spyt wees as ek nie medies gaan swot nie."
Shani wil vanjaar medies studeer aan die Universiteit Stellenbosch en hoop om eendag in radiologie te spesialiseer. Sy het geen planne om haar vlerke te sprei en oorsee te gaan woon en werk nie.
"Daar is geen plek in die wêreld soos Suid-Afrika nie. Hier is my huis en my mense."














