Matrieks

Wiskundevraestel was ‘billik en regverdig’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoewel sommige matrieks meen die tweede wiskundevraestel Maandag was beter as die eerste, het ander harde bene gekou met dié laaste wiskundevraestel van 2022.

Die matrieks het op dag 6 van die eindeksamen die tweede vraestel in wiskunde en wiskundige geletterdheid geskryf. Die eerste is Vrydag geskryf.

SIEN DIE VRAESTEL IN .PDF ONDER.

Vraestel 2 het onder meer oor statistiek, waarskynlikheid, meetkunde, trigonometrie, kaarte en planne asook datahantering gehandel.

Ayron Arendorff van die Hoërskool Bonnievale sê die tweede wiskundevraestel was beter as die eerste. Dit is "billik en regverdig opgestel".

Baie leerlinge kla hulle het te min tyd gehad, maar Arendorff sê daar was geen strikvrae nie en vir hom was daar genoeg tyd om die vraestel te voltooi.

"Euklidiese meetkunde was die moeilikste en vreemd. Vir Euklidiese meetkunde moet jy hoeke uitken en redes gee. Dit is soms moeilik om dadelik die hoeke raak te sien of 'n rede te hê vir 'n hoek."

Ayron Arendorff Foto: Verskaf
Ayron Arendorff Foto: Verskaf

Cari Pienaar van Hoërskool Durbanville sê die vraestel was beslis "doenbaar", maar vraag 10, wat 13 punte tel, het haar onkant betrap.

"Ek het omtrent 40 minute met die vraag gesit," sê sy.

Cari Pienaar Foto: Verskaf
Cari Pienaar Foto: Verskaf

Hoewel ander leerlinge sê die vraestel was billik en doenbaar, is dit nie die geval vir Adri Carstens van Hoër Meisieskool Paarl nie. Sy sê dit was "een van die moeilikstes wat ek nog ooit gedoen het".

Van haar klasmaats het dit ook as taamlik moeilik beskou.

Carstens sê die vraestel het taamlik goed begin, maar vraag 5, wat 30 punte tel en oor trigonometrie handel, was vir haar "regtig moeilik".

"As ek nog tyd gehad het, sou ek hier en daar 'n ekstra punt bygekry het."

Adri Carstens Foto: Verskaf
Adri Carstens Foto: Verskaf

Matthew Thomas van die Sekondêre Skool Klein Nederburg sê die datahantering was vir hom die maklikste en lekkerste vraag. Hy sê wel die vraag oor trigonometrie was baie moeilik en hy sou dit graag weer wou doen.

Matthew Thomas Foto: Verskaf
Matthew Thomas Foto: Verskaf

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM